‘n Herrie het ontstaan nadat ‘n kind by ‘n dagsorg in Potchefstroom glo deur een van die helpers geslaan is.
‘n Video van die voorval is aan die Herald gestuur deur ‘n vrou wie haar kind by dié dagsorg sou inskryf.
Volgens Yolandi Homan, was sy op 20 Mei toevallig besig om te kyk wat op die kameras aangaan toe sy die voorval sien.
“Ek dink nie die kinders se ouers is bewus daarvan nie. Hulle kan nie die hele dag op die video ingeskakel wees nie en dit het binne ‘n sekonde gebeur. So baie ouers sou dit glad nie eers gesien het nie,” verduidelik sy.
Linda Cloete, eienaar van Harteliefies dagsorg, verduidelik dat die betrokke kind ‘n gewoonte het om sy hand binne die gleufies van ‘n kas te druk.
“Die helper het bloot sy hand van die kas af weggekry. As sy hand vassit en ons sukkel om die hand daar uit te kry, dan is dit ‘n heel ander storie,” verduidelik Cloete.
“Ek het niks om weg te steek nie, al die ouers by die skool is op die kamera toepassing geregistreer en kan enige tyd kyk wat by die skool aangaan. Mense hoef ook nie met my afsprake te maak nie, hulle is enige tyd welkom by die skool. Ek weet my helper het niks verkeerd gedoen nie. Daarom moet ek ook billik teenoor haar optree,” verduidelik sy.
Volgens Cloete werk die betrokke helper al lank by die skool en is sy baie lief vir die kinders in haar sorg.
“Daar is baie ouers wie se kinders al deur haar hande is, wat sal getuig oor haar liefde vir die kinders. Ons weet ons werk met mense se kosbaarste besittings en probeer altyd perfek wees. Op die video kan gesien word dat die kind nie eens gehuil het nie en na die tyd selfs weer agter die helper aangaan het. Ek weet nie hoekom wil mense nou kwaad stook nie,” verduidelik Cloete.
Volgens die betrokke kind se ma, wie se naam weerhou word om die kind se identiteit te beskerm, het sy yskoud en woedend geword toe sy die video sien.
“Toe ons die video sien en besef dit is ons seuntjie het ek dadelik daarheen gery en vir die eienaar die video gewys en gesê dat niemand die reg het om my kind so te klap nie. Sy het toe die werker gaan roep, ek het vir haar ook die video gewys en sy het aanhou sê my seuntjie druk sy hand by ‘n kas in en sy het sy hand bloot weggeskuif. Ek het vir haar gesê in daardie video is my seuntjie se hand nêrens naby ‘n kas nie en hy is geklap. Ek het gevra hoe kan ek hom terugneem skool toe as die vrou steeds daar werk?” het die ma gesê.
Volgens die ma is sy ook ongelukkig omdat sy nie deur die skool in kennis gestel is van die gebeure nie, maar eers later daarvan uitgevind het nadat die video versprei is.
“Ek het nie ‘n klag by die polisie gaan lê nie, my kind is genoeg ontwrig. My seuntjie is dadelik uitgehaal en in ‘n ander skooltjie gesit,” het die ma verduidelik.
Cloete het bevestig dat die kind nie meer in die skool is nie.



