NewsNews

Beplande mynbouaktiwiteit by Gerhard Minnebron wek kommer

Daar is kommer oor 'n aansoek rondom mynbedrywighede in die omgewing van Gerhard Minnebron, wat Potchefstroom se hoofbron van water is. 

Daar is kommer oor ‘n aansoek rondom mynbedrywighede in die omgewing van Gerhard Minnebron, wat Potchefstroom se hoofbron van water is.

Volgens ‘n kennisgewing beplan Sunshine Mineral Reserves om die gebied buite Potchefstroom (wat gedeeltes van Gerhard Minnebron, Vyfhoek en Rietfontein) insluit, te prospekteer as deel van die NW Goldfields projek.

Die publiek het tot en met 30 Junie 2022 die geleentheid om beswaar te maak teen hierdie projek, waarvan die aansoek alreeds op 12 April 2022 deur die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie goedgekeur is.

Die kennisgewing wat uitgereik is oor die beplande mynbedrywighede in die Gerhard Minnebron-omgewing. Foto: Verskaf

Die VF Plus se provinsiale leier in Noordwes, Michal Groenewald, noem in ‘n persverklaring dat die VF Plus in ‘n proses is om as ‘n geaffekteerde party te registreer.

“Die Departement van Waterwese het eers Woensdag (22 Junie) kennis geneem hiervan. Gerhard Minnebron is ‘n natuurlike oog en enige mynaktiwiteite kan groot ekologiese skade veroorsaak en ook die kwaliteit van water affekteer,” noem hy.

Gerhard Minnebron verskaf sowat 73 % van Potchefstroom se vars water en is die grootste natuurlike waterbron van sy soort in die suidelike halfrond. ʼn Groot deel van die plaaslike landbou-gemeenskap is ook afhanklik van water uit hierdie standhoudende bron.

“Die bron is ook geleë in ʼn ekologies sensitiewe gebied met baie dolomiet in die omgewing. Enige mynbedrywighede in die omgewing sal die grondstruktuur versteur en ʼn direkte, onomkeerbare, negatiewe impak op Gerhard Minnebron en ander grondwater hê,” noem Groenewald.

Hy brei ook verder uit oor die impak wat swaarmetale in die water sal veroorsaak en dat dit druk op watervoorsieningsbronne sal plaas.

“Dit is byna ondenkbaar dat enige mynmaatskappy dit enigsins kan oorweeg om só ʼn belangrike natuurlike hulpbron vir winsbejag te bedreig ten spyte van die ooglopende negatiewe impak op die plaaslike gemeenskap en omgewing.

Alhoewel ekonomiese ontwikkeling en werkskepping van kritieke belang vir die land is, bly dit noodsaaklik dat enige ontwikkeling só gedoen word dat dit nie skadelik is nie,” voer hy verder aan.

Die publiek kan dokumente oor hierdie NW Potch Goldfields projek by die volgende skakel aflaai:

https://www.imbokodoservices.co.za/public-documents/

Volgens die kennisgewing kan die publiek hulle bekomernisse en insette oor hierdie projek aan Mr. Sibongiseni Siwendu stuur met die verwysing “NW Potch Goldfield”. Dit kan per e-pos of telefonies geskied by environmental@imbokodoservices.co.za of 010 141 0234. 

Die Herald het navrae aan die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie gestuur, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button