
Potch Dorp gaan Saterdag, 25 Junie hulle Neserliga-titel teen Klerksdorp verdedig.
Dorp, wat verlede jaar die beker teen Ikageng gewen het, moes tot laat Dinsdagaand, 21 Junie wag om te sien wie hulle opponente in die eindstryd gaan wees.
Klerksdorp Rugbyklub het 43 – 27 oor Stilfontein Hurricanes geseëvier. Dit was ‘n harde wedstryd wat verseker die Klerksdorpers se lywe bietjie seer gelaat het.
Dorp het hulle halfeindstryd verlede Saterdag teen Westonaria met 50 – 17 gewen.
Die stryd teen Klerksdorp is een van die oudste, as dit nie die oudste Rugbystryd in die provinsie is nie. Dorp sal verseker as die gunstelinge gesien word om as wenners uit die eindstryd te tree. Hulle het die week voor die halfeindstryd 36 – 14 met Klerksdorp afgereken.
Klerksdorp het Dinsdagaand hulle halfeindstryd op Olënpark gespeel. Nou sal hulle weer Potchefstroom toe moet reis om Dorp te takel.
Joe Smith, hoofafrigter van Dorp het onlangs aan die Herald gesê dat hulle die uitkloprondtes wedstryd vir wedstryd aanpak.
Tog sal daar onder die Dorp ondersteuners ‘n gevoel van hoop wees dat hulle manne in maroen die beker vir ‘n tweede keer agtereenvolgend in Potch kan hou.
Maklik sal die Klerksdorpers dit beslis nie vir die Potchefstromers wil maak nie. Die buiteperd is gewoonlik in uitkloprondtes baie gevaarlik.
Dorp sal goed doen om soos in die liga-rondtes teen Klerksdorp, hulle struktuur te behou en seker maak die voorspelers se krag word goed gebruik.
Die wedstryd skop om 15:00 by Dorp se velde af. Toegang is gratis.