‘n Speurverhaal met katte as die hoofkarakters, kom uit die brein en pen van die jong 13-jarige Potchefstroomse gepubliseerde skrywer, Rievkah Boardman.
Rievkah, ‘n graad-7 leerder aan Laerskool Baillie Park, het as 10-jarige reeds haar eerste boek, Katte met Kolle, geskryf en kan nou, drie jaar later, amptelik met ‘n groot glimlag op haar gesig spog dat haar boek gepubliseer is.
Hierdie jong skrywer noem dat haar groot liefde vir katte en veral haar kat, JJ (Jerry Junior) die inspirasie vir die storie was.

“Ek het net begin skryf en as ek idees kry, aanhou skryf. My kat het ook saam met my gesit en soms op my rekenaar se sleutelbord geloop. Ek het die skryfproses baie geniet. Een van die redes vir die boek was omdat daar nie baie kinderstories oor katte is nie. So toe dink ek om self ‘n boek te skryf wat ek en ander oor katte kan lees,” vertel sy.

Rievkah noem ook dat sy nie kon glo dat sy uiteindelik na drie jaar die boek in sy finale formaat kon sien nie.
“Ek kon nie glo toe ek my eie boek voor my sien nie. Ek was baie opgewonde,” sê sy.
Katte met Kolle is ‘n kinderfiksie speurverhaal met 118 bladsye vol intrige, swaaie en draaie uit die oog van twee huiskatte, Bella en Tinki, saam met hulle twee straatkatvriende, JJ en Chiepi.

Ná ‘n inbraak by die plaaslike katspeelgoedwinkel moet hierdie vier katte die raaisel oplos en natuurlik wag daar ‘n hele paar noue ontkomings en avonture op hulle pad. Hierdie stories speel ook af in Londen.
Volgens Rievkah het sy hierdie ligging gekies omdat sy gedink het dat die katte in ‘n spoggerige plek moes bly.
“Ek wou hê die katte moes in iets soortgelyk as die Withuis bly en Engeland met die koninklikes was vir my ‘n goeie idee.”
Haar ma, Lynette, noem dat sy ontsettend trots is op haar dogter wat nou ‘n amptelike gepubliseerde skrywer is.
“Ek kon sien toe ek die boek lees hoe sy dink en wat in haar kop aangaan. Partykeer het sy skielik idees gekry toe sy geskryf het. Dit was ook lekker om deel van die proses te wees en haar te help proeflees. Sy geniet skryf regtig baie,” vertel Lynette.
Volgens Rievkah is daar ook beslis ‘n geleentheid om ‘n nuwe boek te skryf in die toekoms of ‘n opvolgstorie te doen van Katte met Kolle.
“Daar is sover 17 boeke verkoop wat regtig ongelooflik is. Dalk skryf ek ‘n storie met nuwe karakters of storielyne. Ek sal nog sien. Ek sien skryf tans as ‘n stokperdjie en sal graag net wil aanhou skryf.”
Dit is ook die raad wat Rievkah aan jong skrywers het wat ook droom om ‘n boek uit te gee.
“Moenie te veel bekommer oor hoe alles inpas nie. Ek het baie idees gehad en nie altyd presies geweet hoe my storie sou eindig nie. Die beste is net om aan te hou skryf.”
Katte met Kolle is uitgegee deur Malherbe Uitgewers en is aanlyn beskikbaar hier





