NewsNews

VLU Leeuharttak vier 65 goeie jare

Dit was ‘n feestelike geleentheid en verteenwoordigers van omliggende takke het die geleentheid bygewoon.

Op 21 Junie 1957 het 10 geesdriftige dames bymekaar gekom om ‘n nuwe tak van die VLU te stig. Hierdie vergadering het by die destydse Rooipoort 19 Laerskool plaasgevind.
Dit het dames van twee plase, Leeufontein en Hartbeesfontein, ingesluit. Dit het daartoe gelei dat die nuwe tak Leeuhart gedoop is. Die eerste bestuurspan wat verkies is, was F. Hunter (voorsitter), S. Prinsloo (visevoorsitter) en H. Kirstein (sekretaresse). Een van die eerste take van die nuutgestigte Leeuharttak was om fondse in te samel om vir die skoolkinders en kleuters ‘n Kerspartytjie te hou.

Ineke Bakker (Voorsitter van Leeuharttak) stel ‘n heildronk in op Leeuharttak se 65ste verjaarsdag.

Hierdie projek was die eerste van baie suksesvolle projekte!
Sedertdien het die Leeuharttak van krag tot krag gegaan. Op 21 Junie was die tak 65 jaar oud. Dit was ‘n feestelike geleentheid en verteenwoordigers van omliggende takke het die geleentheid bygewoon. Dié tak het tans 24 lede en twee erelede. Elke dame het die geleentheid om haarself uit te leef in verskeie studierigtings, waaronder skilderkuns, fotografie, skryfkuns, blommerangskikking, preservering, gebak, borduur, hantvlyt, handbreiwerk, hekelwerk en masjienwerk.

Die VLU Leeuhartbestuur van 2022:
Agter links na regs: Annatjie van der Ryst (Tesourier), Pierene Verster (Eerste Visevoorsitter), Magda Huisman (Skakelbeampte), Elize Oosthuizen (Beoordeelaar en administratiewe beampte).
Voor links na regs: Elsa Reinecke (Sekretaresse) en Ineke Bakker (Voorsitter).

Die huidige bestuurspan is Ineke Bakker (voorsitter), Pierene Verster (eerste visevoorsitter), Elsa Reinecke (sekretaresse), Magda Huisman (skakelbeampte), Annatjie van der Ryst (tesourier) en Elize Oosthuizen (beoordelaar en administratiewe beampte).

Na 65 jaar streef die Leeuharttak steeds om die doel van die VLU na te streef en die vrou in staat te stel om haar regmatige plek in die samelewing en beroepslewe in te neem:
* Om die vrou se kennis te verbreed;
* Om haar eie talente te ontdek en dit te ontwikkel;
* Om aan haarself hoë eise en standaarde te stel en net met die allerbeste tevrede te wees;
* Om haar uitkyk op die lewe te verruim;
* Om van haar ‘n beter vrou en moeder, sowel as opvoeder van haar kinders te maak;
* Haar mensekennis te verbreed;
* Om te volhard tot sy wen, maar om ook ‘n tevrede verloorder te wees;
* Om haar gevoel van eie waarde te bevestig;
* Om haar vriendekring uit te brei;
* En laaste maar nie die minste nie, om haar sorge te vergeet en aangenaam en gesellig saam met mede-lede te ontspan.
Dames wat belangstel om by die Leeuharttak van die VLU betrokke te raak, kan Ineke Bakker by 082 786 6820 kontak.
Hulle vergader elke derde Woensdag van die maand om 14:00 in die NG Kerk Mooirivier se kerksaal

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button