Man bring verlore beursie terug vir pensionaris
Daar is niks uit die beursie gevat nie, al het die beursie vir 'n ruk op die grond gelê.

Toe Hannes de Villiers sy skoonpa se tuinrommel verlede Vrydag, 29 Julie gaan weggooi het. Het hy nie gedink dat hy ‘n held vir mede Potchefstromer, Gideon Peach, sou wees nie.
Hy het ‘n beursie op die grond so omstreeks 14:00 gewaar en toe dadelik gekyk of hy nie identifikasie kan bekom nie. Die beursie het ook nog geld bevat.
“Ek het gesien dat daar ‘n Spar kaart is en toe na Miederpark Spar gery om te hoor of hulle nie ‘n nommer het sodat ek weer die beursie kan teruggee nie. Ek het toe vir Oom Gideon gebel en so net voor 7 die aand het ek sy beursie vir hom teruggegee. Ek is bly ek kan help, want as ek nie daar was nie, was sy beursie dalk nou nog weg,” vertel Hannes.
Oom Gideon het nie dadelik besef dat sy beursie weg is nie. Hy het omtrent op dieselfde tyd as Hannes sy eie tuisvullis weggegooi, maar toe voor Hannes klaar is alreeds gery. Hy het eers later besef dat sy beursie weg is.

“Ek dink die beursie moes uit my kar geval het toe ek die sakke uitgehaal het om weg te gooi. Ek is net ewig dankbaar dat daar mense soos Hannes is wat eerlik is en nie net die beursie of die geld daarin gevat het nie,” noem Oom Gideon.
Daar was juis verlede jaar ‘n voorval waar iemand Oom Gideon se bankkaart gesteel het en items gekoop het, voordat hy sy kaart kon stop.
“Ek was so bly toe Hannes my bel en ek nie al my bankkaarte en lisensie, en nog meer verloor het nie. Alles is in hierdie beursie,” meen hy.
Die kans dat Hannes en Oom Gideon se paaie kon kruis was bitter skraal, aangesien Hannes meestal deur die week in Rustenburg werk en net naweke Potch toe kom. Hy was wel hierdie keer op die regte tyd en op die regte plek.