Stalletjies by taxi-staanplek afgebreek om misdaad te bekamp
Haweloses het ‘n bedreiging vir pendelaars wat van taxi’s gebruik maak en ook vir die taxi’s geword, aangesien baie mense in die omgewing van die taxi-staanplek beroof is.
Potchefstroom se Sentrale Besigheidskern gaan reeds die afgelope 10 jaar onder misdaad en verval gebuk.
Een van die groot punte van kommer is die taxi-staanplek in die middestad waar kriminele aktiwiteite daagliks hoogty vier.
Die onlangse afbreek van die beplande informele handelaars se stalletjies in hierdie taxi-staanplek is een manier om die situasie te verbeter. Hierdie stalletjies was ‘n seer oog en kopseer vir taxidrywers en pendelaars wat van publieke vervoer gebruik maak.

Nie net het daar onwettige storting plaasgevind nie, maar haweloses het ook daar gewoon. Hulle het ‘n bedreiging vir pendelaars wat van taxi’s gebruik maak en ook vir die taxi’s geword, aangesien baie mense in die omgewing van die taxi-staanplek beroof is.

Volgens DA wyksraadslid van Wyk 24, Jeanne Adriaanse, is hierdie informele handelaars se stalletjies wat nooit vir die oorspronklike doel gebruik is nie, die afgelope naweek afgebreek nadat dit basies onherstelbaar verval het. Die bakstene en staal word herwin vir hergebruik vir ander infrastruktuur by die taxi-staanplek en ander areas.

“Hierdie stalletjies het al vir jare ‘n groot veiligheidsrisiko veroorsaak. Dit is vuil en die stank was ook ondraaglik. Daar is ook op ‘n daaglikse basis vure in die stalletjies gemaak. Vorige pogings om die stalletjies op te gradeer en te beveilig, het klaaglik misluk. Ten spyte van skoonmaakpogings is tussen 500cm en een meter se vullis en gemors daar opgemerk, waaronder matrasse,” noem Adriaanse.

Sy verduidelik dat haweloses vuur maak en dit ‘n verdere gesondheidsrisiko vir verbygangers veroorsaak. Die wyksraadslid van Wyk 15, Madra de Bruin, het ook die vergadering bygewoon. Die wyk is aangrensend tot Wyk 24 met betrekking tot die Wandellaan.
“Daar is ook kommer oor die veiligheid van die gemeentelede van die Anglikaanse Kerk in Autolaan weens die haweloses in die area. Dit is nie reg dat mense bang is om kerk toe te gaan nie,” voer sy aan.
Dit is weens hierdie kommerwekkende punte dat Adriaanse besluit het om Donderdag, 28 Julie ‘n vergadering met die munisipaliteit en relevante belanghebbendes te reël. By die vergadering is ‘n verskeidenheid punte in die omliggende area van die taxi-staanplek wat kommer wek, sowel as die vervalle toestand die Wandellaan, bespreek.
Adriaanse noem dat daar reeds talle voorstelle gemaak is om die taxi-staanplek, Wandellaan en omliggende areas veiliger te maak. Sy is ook dankbaar vir die samewerking, hulp en ondersteuning van die munisipaliteit, in besonder mnr. Moss Galeng (LED), me. Zippora Vivane (waarnemende direkteur) en mnr. Thabo Khupari (waarnemende direkteur veiligheid en vervoer) in die verband.
Daar was reeds planne wat goedgekeur is om die taxi-staanplek te omhein, maar niks het die afgelope paar jaar hiervan gekom nie.
Adriaanse was vyf jaar gelede op eie onkoste Kaap toe om inligting in te win oor hoe taxi-staanplekke beveilig kan word. Sy hoop dat daar nou weer dringend na omheining gekyk kan word om veiligheid op te skerp.
“‘n Verdere oplossing is dat die taxi-assosiasies dele van die taxi-staanplek aanneem en onderhou. Informele handelaars moet ook nuwe permitte kry om handel te dryf, terwyl die areas weer duidelik afgebaken word. “Dit is ‘n kwessie van opruim, skoonmaak en verwydering van moontlike versperrings wat aanleiding gee tot misdaad. Deur hierdie optrede deurlopend toe te pas en seker te maak dat alle onwettige optrede uit die weg geruim word, glo ons dat besighede en kerke in die hartjie van die stad weer kan floreer. Daarvoor het ons elke besigheid- en gebou-eienaar se samewerking nodig,” sê sy.




