“Vriendelike” sakkeroller vasgevang wat jong vrou se foon steel
Die man wat netjies aangetrek was, het haar vriendelik gegroet en haar hand geskud voordat hy haar selfoon gesteel het.
Die vinnige reaskie van Mooirivier Beskerming en die SAPD het daartoe gelei dat ‘n sakkeroller binne 30 minute vasgetrek word. Kringtelevisiekameras wat die Cachet Park CID opgerig het, het grootliks gehelp om die sakkeroller vas te trek.
‘n Jong vrou wat verkies om anoniem te bly, is vroeg Donderoggend (4 Augustus) omstreeks 00:50 op die Bult in Steve Bikolaan van haar selfoon beroof.
‘n Man het haar geroep nadat sy kos by ‘n wegneem-eetplek gekoop het. Die man wat netjies aangetrek was, het haar toe vriendelik gegroet en haar hand geskud. Na die gesprek, het sy gevoel dat haar foon uit haar sak verdwyn het.
Die vrou het toe vir ‘n student gevra om haar foon te bel, maar dit was beset.
Haar sussie het vir Mooirivier Beskerming omstreeks 01:15 gebel om die voorval aan te meld. Toe hulle albei na die toneel terugkeer, het die polisie en Mooirivier Beskerming alreeds die verdagte se voertuig deeglik ondersoek en haar gesteelde foon opgespoor. Die vrou kon ook die man indentifiseer wat haar beroof het.
Roland Bekker van Mooirivier Beskerming bevestig die voorval en noem dat die verdagte se voertuig deur middel van kringtelevisiekameras opgemerk is.
“Die voertuig het weer na dieselfde area teruggekeer na die eerste voorval wat gerapporteer is,” noem hy.
Bekker versoek ook dat die publiek nie met vreemdelinge kommunikeer wat wil drukkies gee of te naby ‘n persoon kom nie.
“Daar is ‘n tendens vir hierdie tipe misdaad waar veral jong mense en studente van hulle beursies en selfone beroof word. As ‘n vreemdeling na jou toe kom en jou met ‘n drukkie wil groet of jou hand skud is dit beter in so geval om die persoon weg te druk. Hou eerder spasie tussen jouself en die vreemdeling,” het Bekker gese.




