Diere is deel van nuwe PAWS bestuurder se wese
“Ek is ‘n groot kat liefhebber en is ook lief vir honde. Ek kan nie dink dat ek al ooit in my lewe nie deur diere omring is nie.
Met 9 katte en 2 honde in sy gesin, is dit veilig om te sê dat Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS) se nuwe bestuurder, Theo Koekemoer (51) ‘n hart vir diere het.
Theo, saam my sy vrou, Lizel, is twee nuwe gesigte by PAWS wat aan die stuur van sake is. Hy het op 20 Junie vanjaar amptelik begin en neem oor by die voormalige bestuurder, Herman van der Sluis. Van der Sluis was vir vier en ‘n half jaar die bestuurder van PAWS.
Al is die druk by PAWS en die hoeveelheid werk aanhoudend en sonder ophou, kan ‘n mens in Theo se glimlag sien dat hy werklik ingestem het om weer deel van die PAWS familie te word omdat hy graag in die belang van elke dier wil optree.

Theo kom uit ‘n IT agtergrond en het al klomp besighede suksesvol bestuur. Dit is met hierdie kennis dat PAWS een van hul “ou vriende” weer genader het.
“Ek was vier jaar gelede ondervoorsitter by PAWS en het ook as vrywilliger opgetree. Darren Kruger (PAWS voorsitter) en die komitee het my genader en gevra of ek PAWS wil bestuur en ek het ingestem. My vrou is ook betrokke by PAWS ten opsigte van administrasie en finansies,” noem Theo.
Hy noem ook dat hy as bestuurder ‘n oopdeur-beleid het en dat PAWS se personeel soos ‘n familie moet wees wat saamwerk en elkeen hulle eie vaardighede het wat hulle na die tafel bring,
“Hier by PAWS ervaar ons ook baie emosies per dag – hartseer en vreugde wissel maar. Baie keer moet ons veearts, Dr. Alex Chako, diere uitsit en dit vat aan ‘n mens. In dieselfde asem is dit net so vreugdevol as diere aangeneem word en hulle nuwe familie ontmoet. Dit is waar ons hoop kan bring,” vertel Theo.
PAWS het tans 14 permanente personeellede, sowel as ‘n komitee wat uit vier lede bestaan. Daar is ook daagliks vrywillegers wat ‘n verskeiedenheid take verrig.
‘n Ander belangrike aspek wat Theo op klem lê is die fondsinsamelingsprojekte wat ‘n groot verskil in PAWS se diere se lewenskwaliteit maak.
“Ons het weer die Adopt A Boss aangebied wat baie suksesvol was. Daar is ook Pawtch Fet sowel as die PAWS Fun Day wat ook later vanjaar plaasvind waaroor ons opgewonde is,” noem Theo.
Hierdie familieman geniet dit om buite te wees en saam met sy kinders vis te vang. Hy het twee kinders, Wessel (24) en Anzellé (29) sowel as ‘n skoonseun en kleindogter.
Diere was nog altyd deel van Theo se lewe sedert hy kan onthou. As skoolkind was daar altyd ‘n kat wat hom “geselskap” gehou het as hy sy huiswerk doen.
“Ek is ‘n groot kat liefhebber en is ook lief vir honde. Ek kan nie dink dat ek al ooit in my lewe nie deur diere omring is nie. As die diere eers ‘n naam kry dan bly hulle” vertel Theo wat ‘n Chow en Pomeranian as honde besit.
“Ons hart is dat die diere hulle tuiste en ‘n liefdevolle familie kry. Natuurlik kort ons daagliks kos en komberse vir die diere. Elke bietjie hulp vanuit die gemeenskap is fantasties. As ‘n nie-winsgewende organisasie is alle hulp vanuit die gemeenskap belangrik en word opreg waardeer,” beaam Theo.
“Hier by PAWS doen ons alles vir die diere. As jy nie ‘n hart vir diere het nie, dan is PAWS die verkeerde plek vir jou.”




