Kwaliteit diens by nuwe Mooimed Apteek
Die Mooimed Hospitaal het op Vrydag, 2 September ‘n splinternuwe handelsapteek geopen.
Die Mooimed Hospitaal het op Vrydag, 2 September ‘n splinternuwe handelsapteek geopen om ‘n gerieflike een-stop diens vir praktiserende dokters en pasiënte te verskaf.
Hierdie droom van Mooimed om hulle eie apteek te open, wat meer as ‘n jaar se harde werk en doelgerigtheid geverg het, is nou bewaarheid.
Foto’s: Wouter Pienaar
Die publiek kan met gemoedsrus van die dienste gebruik maak met die wete dat omgee en dienslewering eerste op die hart van Mooimed Apteek is. Mooimed Apteek het ‘n kranige span wat deur die apteekbestuurder, Marlize Eloff, gelei word.

Dr. Kobus Slabber, een van die direkteure van Mooimed Hospitaal, noem dat hy ontsettend trots is op die span.
“Van die begin af is daar volgehou om ‘n sukses te maak van die projek.
Die hoofdryf agter die opening is die huurders se behoefte om die pasiënte beter te kan diens. Ek is trots om te kan sê dat julle met gemoedsrus jul pasiënte na ons toe kan stuur. Dit gaan nie primêr oor winsgewendheid nie, maar eerder om ‘n diens aan die gemeenskap te lewer,” noem dr. Slabber.











