Local newsNewsNews

Primaria staan van haar pligte af na studente by koshuisfunksie uitgesluit voel

“Die Noordwes-Universiteit se standpunt was nog altyd dat taal nooit gebruik moet word as 'n manier om belanghebbendes in watter geval ook al uit te sluit nie."

Die Primaria van ‘n dameskoshuis op die Noordwes Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus het van haar posisie afgestaan.

Een van die redes is dat sy tydens ‘n koshuisfunksie die afgelope naweek na bewering ‘n toespraak in Afrikaans gelewer het, wat sekere studente uitgesluit laat voel het.

Daar het ook ‘n skermgreep van die studente se klagtes op sosiale media verskyn.

Die NWU se Kampusstudenteraad het ‘n verklaring gister (Woensdag, 14 September) uitgereik waar hulle noem dat hulle saam met die Uitvoerende Direkteur van Studentelewe met die geaffekteerde koshuis se studente in verbinding getree het om konteks oor die voorval te kry.

“Die saak word deur die relevante rolspelers hanteer en is onder beheer in die koshuis,” lui die verklaring.

NWU woordvoerder, Louis Jacobs, het die voorval bevestig.

“Die program van die aand is op so ‘n wyse hanteer dat sekere studente uitgesluit is, en nie welkom gevoel het nie,” noem hy.

Hy staaf dat die saak intern hanteer word en deel vorm van die groter proses om sekere kwessies aan te spreek wat nie net verband hou met hierdie spesifieke geleentheid nie.

“Die Noordwes-Universiteit se standpunt was nog altyd dat taal nooit gebruik moet word as ‘n manier om belanghebbendes in watter geval ook al uit te sluit nie. Die NWU het vier amptelike tale, Engels, Afrikaans, Setswana en Sesotho, en nie een hiervan moet ooit gebruik word om deelname aan ‘n geleentheid uit te sluit nie,” voer Jacobs aan.

Jacobs noem ook dat die huiskommiteelede (HK’s) vir die nuwe termyn (2022/23) alreeds gister (Woensdag, 14 September) as deel van die jaarlikse proses aangekondig is.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button