“Rugby is so deel van wat ons bymekaar gebring het, en bymekaar hou. Amper soos die gom vir ons verhouding,” lag Rikus.
Haar ondersteuning was so konstant dat die skare en Rikus se spanmaats hom ook begin Liefie noem het.
“Ek kan nie vir hom skree, Rikus nie, dit voel net nie reg nie. So ek skree maar, ‘go Liefie’. So het die ander spelers en later die skare ook die naam begin gebruik,” lag sy.
Sagte, teer en liefdevolle oomblikke word baie selde met Rugby vereenselwig.
Tog is dit wat Saterdag, 17 September, na afloop van die Luiperds Plattelandspan se wedstryd teen die Valke gebeur het.
Rikus van Zyl, hard hardlopende senter vir die Luiperds het sy vriendin, Lize-Marie van der Merwe op die veld gevra om te trou.
“Ek het niks verwag nie, maar toe hulle my na die veld bring toe het ek so ‘n idee,” glimlag Lize-Marie wanneer sy oomblik weer onthou.
Dié twee is al amper vyf jaar saam en het in hulle matriekjaar by Volkies begin uitgaan.
“Albei ons gesinne is mal oor Rugby so my ma en pa was bly toe ek met ‘n Rugbyspeler begin uitgaan het,” verduidelik Lize-Marie.
“Sy is en was nog altyd my grootste ondersteuner. Met al die beserings en alles wat daarmee saamkom. Sy is by elke tuiswedstryd al van hoërskool af,” vertel Rikus.
Volgens hom het dit net soos die regte plek gevoel om die ewige liefde te vra.
Volgens Lize-Marie wat Biokinetika by die NWU studeer, is Rugby telkemale ‘n besprekingspunt tussen die tweetjies.
“Ons sal gesels oor die beserings en herstelproses en kondisionering veral,” vertel sy.
‘n Troue dan op Loftus?
“Snaaks genoeg, ons is albei Blou Bulle, ek is die enigste een in my gesin wat ’n Blou Bul is. Ek sal graag op Loftus wil trou,” lag Lize-Marie.
“Ons kan dit oorweeg, maar dit is dalk bietjie vergesog,” glimlag Rikus.