Na maande se gebede vanuit verskeie oorde kon Keean Claase (1) hierdie afgelope Maandag, 10 Oktober uiteindelik ‘n belangrike hartoperasie ondergaan.

Keean, wat met Tetralogy of Fallot-hartkondisie (gatjie in sy hart) gebore is, moes die afgelope paar maande om lewe en dood teen ‘n beroerte en Covid-19 veg, wat die tydperk verleng het voordat hy die nodige hartoperasie kon ondergaan.
Hy sou reeds in Junie vanjaar vir die hartoperasie gaan, maar weens die beroerte en Covid-19 moes hy eers herstel nadat ‘n gedeelte van sy lyf verlam was.

Hy moes ook by die huis met behulp van ‘n suurstofmasjien leef en ook fisioterapie kry.
Keean is tans in die Netcare Sunninghill Hospitaal in Johannesburg se kardiotorakale hoësorgeenheid na die operasie wat Maandag om 08:00 gedoen is.
Keean se toestand is tans stabiel en hy is baie woelig na die operasie, wat volgens die dokters ‘n goeie teken is. Hy is wel nog nie uit gevaar nie en dokters sal eers teen vandag, Donderdag, 13 Oktober kan weet of die operasie ‘n sukses was.
Dit is vir sy ouers, Francois Claase en Michelle du Preez, ‘n groot beproewing, wat daagliks hul seuntjie aan die Here opdra vir genesing. Hulle sien wel vir Keean as God se wonderwerk, ‘n klein vegtertjie wat al talle struikelblokke moes oorkom.

“Die dokters het die gatjie in sy hart toegemaak, maar die pulmonêre klep moes verwyder word. Dit beteken dat hy weer in sy leeftyd ‘n operasie sal moet ondergaan om die klep te vervang.
Daar is nog vog op sy longe, maar dit behoort op te klaar. Hy is ook op ligte sedasie weens die feit dat hy stoei om uit te kom,” noem sy pa.
Vir Keean se ouers is dit moeilik om hul seuntjie so aan die bed vasgekluister te sien.
“Hy wil net uit en dit is vir hom sleg omdat hy glad nie van die hospitaal hou nie. Dit is hartverskeurend om hom so ongelukkig te sien. Ons moet net kalm bly, dan sal hy ook kalmer wees,” noem hy verder.
Beide Francois en Michelle is ongelooflik dankbaar vir die gemeenskap se gebede en ondersteuning in hierdie tyd.
“Ek sal julle in ‘n leeftyd nooit almal kan raakloop of ken nie, maar weet ek is julle ewig dankbaar. Geseënd is julle in die wonderlike naam van ons Hemelse Vader,” noem hy.
Die finansiële druk is ook erg op Keean se ouers met mediese kostes van sy hartoperasie wat daagliks meer word.
“Ons vertrou dat die Here ons sal dra en ons bid vir Sy beskerming en genesing vir Keean.”




