Local newsNewsNews

Potch fietsryers trap 100km terug huistoe na wedren in Pretoria afgestel is

Talle fietsryers is slegs vroeg die oggend (04:00) voor die wedren in kennis gestel dat die Tshwane Classic nie meer gaan plaasvind nie.

‘n Groep Potchefstroomse fietsryers het die beste van ‘n teleurstellende saak gemaak, toe hulle ondanks die gekanseleerde Tshwane Classic-fietswedren in Pretoria, besluit het om die pad terug na Potchefstroom op hulle fietse aan te pak.

Sodoende kon die CycloDNA groep van Wesley Wallace, Hendrik Britz, André Denobli, Ryno Schutte en Dana Schutte steeds 100km kilometer op Sondag, 6 November vanaf die Carletonville-kruising (N14) op hulle fietse inwerk, al was dit nou nie in die verwagte kompetisie-verband nie.

Die groep Potchefstroomse ryers het na die Tshwane Classic fietswedren op Sondag, 6 Oktober, gekanseleer is, besluit om self die pad terug na Potch op hulle fietse aan te durf. Hier is André Denobli, Hendrik Brits, Ryno Schutte, Dana Schutte en Wesley Wallace. Foto: Verskaf

Talle fietsryers is slegs vroeg die oggend (04:00) voor die wedren in kennis gestel dat die Tshwane Classic nie meer gaan plaasvind nie. Volgens die organiseerders van die wedren is die rede omdat die Tshwane stadsraad goedkeuring teruggetrek het en die veiligheid van die fietsryers nie verseker kon word nie. Die wedren is vir eers uitgestel.

Volgens Dana Schutte getuig die afstel van die wedren van uiters swak organisering waar deelnemers se tyd, finansies en passie vir fietsry nie in ag geneem is nie.

“In my 25 jaar van fietsry is die afstel van die Tshwane Classic seker die swakste punt wat ek nog beleef het. Die twee ruggraatlose woorde “postponed” en “refund” het sedert die COVID-pandemie die maklikste uitweg geword om uit wanorde soos swak beplanning te oorkom,” meen Schutte.

Wesley Wallace, Hendrik Brits en André Denobli, terug in Potchefstroom na hulle 100km op hulle fietse voltooi het. Foto: Verskaf

Schutte is ook van mening dat die uitstel van so groot fietswedren teleurstellend vir beide professionele en amateur fietsryers is, wat baie harde werk en tyd insit om hulle doelwitte te kan bereik.

“Die laaste ding wat mens wil hoor is om weer volgende keer te probeer. Om terugbetaling te ontvang is maar ‘n klein druppel in die emmer. Daar is verlof ingesit vir die wat van ver af kom, nie om te praat van vlieg, oornag en brandstofkostes nie.

“Daar is dan natuurlik almal wat verder deel van die dag uitmaak soos kosstalletjies, toiletgeriewe, wedrenbeamptes en nog vele meer. Ek dink as ’n aktuaris die finansiële impak moes bereken sou dit skokkend wees,” sê Schutte.

 

Op ‘n positiewe noot voel hy dat dit nodig was om steeds die kilo’s in te werk sodat fietsryers nie heeltemal verniet moet terugkeer na Potch toe nie.

“Ons groepie van Potch het besluit om vanaf die Carletonville kruising op die N14 ons eie 100km “ride” te doen om ons passie vir die dag uit te leef. Dankie vir al die geduldige motoriste op die pad. Aan my mede fietsryers: Moenie dat optrede soos die ons liefde vir die sport laat vervaag nie en laat ons net positief bly.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button