Video: Gimmies aangewys as beste kultuurskool
Gimmies se adjunkhoof, Rosemary Fouché en Gimmies se kultuurhoof, Loretté du Toit, is albei ontsettend dankbaar dat hulle met die toekenning weggestap het.
Die kunste vloei sommer sterk by Potchefstroom Gimnasium met talle talentvolle leerders wat uitsonderlike uitvoerings by die Allegretto Interprovinsiale Eisteddfod (IPE) gelewer het.
Dit was so goed dat Gimnasium as die beste kultuurskool in vanjaar se eisteddfod aangewys is. Dit is ‘n besondere eer vir Gimmies om tussen van die land se top skole so ‘n prestasie te kon behaal.
Potchefstroom Gimnasium het vanjaar ‘n dans-, kuns- en drama-akademie begin en hierdie ekstra fokus om talent te ontgin en leerders se passie te ontwikkel, blyk om beslis vrugte af te werp.
Gimmies se adjunkhoof, Rosemary Fouché en Gimmies se kultuurhoof, Loretté du Toit, is albei ontsettend dankbaar dat hulle met die toekenning weggestap het. Die kersie op die koek was toe Amira Willighagen met die Johan van Rensburg-wisseltrofee vir die algehele wenner weggestap het.
Johan van Rensburg is juis ‘n oud-Gimmie, so dit was beslis ‘n vol sirkel-oomblik.
“Ons is baie trots op al die leerders wat so goed presteer het. Ons het besluit om 43 kinders vir die Allegretto IPE in te skryf. Al hierdie kinders het bo 90% by die Gimmie-Eisteddfod behaal, so ons het gefokus op hoë standaarde,” noem Fouché. 38 van hierdie 43 leerders het ook 90% by die Allegretto IPE behaal wat ‘n uitmuntende prestasie is en wys dat Gimmies se standaard van top gehalte is.
“Ons wil vir die leerders geleenthede in die kunste skep. Hier is almal welkom en daar is nie ‘n onderskeiding tussen kuns en sport nie. Een van die eerste span rugbyspelers speel ook uitstekend klavier en doen fantasties in die kunste,” vertel Fouché.
Volgende jaar wil Gimmies ook aan die South African Championships of Performing Arts (SACOPA- kompetisie deelneem om hulself verder te toets. “Ons wil ook ons Gimmie-Eisteddfod verder uitbrei met ‘n kunsafdeling wat op visuele kuns, fotografie en ‘n Tik-Tok videoafdeling sal fokus,” vertel Fouché opgewonde.
Hier is Gimmies se uitstaande presteerders:
Die top 5 nasionale medaljewenners is as volg: · Amira Willighagen · Logan Botes · Marco Vorster · Joné van der Walt · Lana Burger
Hierdie leerders het in die top 10 geëindig: Josef Joubert & Amira Willighagen (duet) Cornalie Herbst Kiara Kirsten Laura Kruger Laura van der Walt Mia van Eldik

















