Local newsNewsNews

O gats! Slaggate in Rivierstraat veroorsaak kopseer

Motoriste moet om die groot slaggat ry om te verseker dat hulle bande, onderstel en skokbrekers nie skade kry nie.

Padverbruikers en besighede is al keelvol vir die hoeveelheid slaggate wat hulle daagliks moet trotseer in Rivierstraat.

Daar is veral een groot slaggat wat as gevolg van ‘n aanhoudende waterlek daagliks dit omtrent onmoontlik vir motoriste maak om die pad normaal te kan gebruik.

Charlene Sharpley moet daagliks die slaggat in Rivierstraat soos baie ander motoriste trotseer. Foto: Wouter Pienaar

Motoriste moet om die groot slaggat ry om te verseker dat hulle bande, onderstel en skokbrekers nie skade kry nie. Verder veroorsaak die slaggat op die hoek van Rivier-en Retiefstrate ook verkeersopeenhopings met oggend en laatmiddagverkeer, aangesien motoriste eers vir aankomende verkeer moet wag, wat van baan verwissel om die gat te mis.

“Die groot probleem is die waterlek wat eers herstel moet word. Die infrastruktuur is verouder en op hierdie stadium is ons hande afgekap, omdat dit baie sal kos om ‘n privaat kontrakteur te kry om die werk te doen,” noem een van die besigheidseienaars in die area, wat verkies om anoniem te bly.

Minibustaxi’s ry ook al op die sypadjie om die slaggate te mis, en dit veroorsaak weer dat die sypadjie meer verkeer kan hanteer as waarvoor dit oorspronklik ontwerp is.

Die DA wykraadslid, Bertus le Roux, noem ook dat hierdie slaggat al vir meer as ‘n jaar al telkemale aan die stadsraad gerapporteer is.

Die Herald het die J.B. Marks Munisipaliteit vir kommentaar genader, maar teen druktyd nog nie terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button