Gebarste pyp en lewensredders-dispuut vertraag opening van munisipale swembaddens
Daar was al verskeie stokke in die wiel gegooi, met ‘n pyp wat gebars het, toe die swembadpompe aangeskakel is
Met somer en die Desembervakansie op Potchefstromers se voorstoep is die munisipale swembaddens weens verskeie redes nog nie oop vir gebruik nie.
Gewoonlik sou die swembaddens al van September vir die swemseisoen gereed wees, maar weens die Covid-19 pandemie het beplande opknappings langer geneem.
Die munisipaliteit het verlede week genoem dat die munisipale swembad in Beyers Naudelaan al teen 16 November vir die publiek sou oop wees, maar weens die feit dat lewensredders wat gewerf is, intussen ‘n beter kontrak elders gekry het, is die proses vertraag.
“Die swembad self is gereed, maar veiligheidsmaatreëls en standaarde vereis dat lewensredders aan diens teenwoordig moet wees voordat lede van die publiek sulke fasiliteite betree. Na die ondertekening van kontrakte deur oorblywende lewensredders, is ons entoesiasties dat die swembad so gou moontlik operasioneel en oop sal wees vir die publiek,” – JB Marks Munisipale woordvoerder, Jeanette Tshite.
Die munisipaliteit is ook hard aan die werk om die Potchefstroom Dam se swembad teen 1 Desember vir die publiek oop te stel.

Daar was al verskeie stokke in die wiel gegooi, met ‘n pyp wat verlede week gebars het, toe die swembadpompe aangeskakel is.
Volgens Tshite is dit weens die feit dat dit vir die afgelope twee jaar in ongebruik was.
“Beamptes wat aan diens was, was amper gereed om die swembad met water te vul toe die beproewing plaasgevind het. Gelukkig het hulle daarin geslaag om die pompe af te skakel om onnodige verdere skade te vermy. Die werk wat aan die gang is om die stukkende pyp reg te maak, is nou in ‘n gevorderde stadium,” verduidelik sy.
- Xavier Palmer, president van Noordwes Swem, noem dat dit belangrik is dat die Potchefstroom Dam swembad weer operasioneel is aangesien die Noordwes Swemkampioenskappe vanaf 7-11 Desember daar plaasvind.




