Local newsNewsNews

Burgemeester en raadgewers sit koppe bymekaar oor waterkrisis

Die asbespyplyne (250mm en 450mm) wat tans water voorsien, het verskeie lekkasies, wat veroorsaak dat watervlakke gedurig verminder. Daar is ook gekyk na die belangrikheid om kragopwekkingskapasiteit by die watersuiweringsaanleg te vermeerder.

Inwoners in onder meer Bailliepark, Vanderhoffpark, Dagbreek, Mooivalleipark en Vyfhoek wat van die Vyfhoek-reservoir vir hul watervoorsiening afhanklik is, het in sekere tye vandeesweek geen water uit hul krane gehad nie.

Die groot dilemma is dat beurtkrag alleenlik nie blameer kan word nie, maar dat die basiese gebrek aan onderhoud en waterlekke ook grootliks probleme skep.

Die burgemeester, rdl. Gaba Ka Qhele, het Woensdag, 25 Januarie saam met konsultantfirmas, raadgewende ingenieurs en munisipale amptenare by die Vyfhoek reservoir bymekaar gekom vir ‘n vergadering waar moontlike stappe bespreek is.

Die asbespyplyne (250mm en 450mm) wat tans water voorsien, het verskeie lekkasies, wat veroorsaak dat watervlakke gedurig verminder. Daar is ook gekyk na die belangrikheid om kragopwekkingskapasiteit by die watersuiweringsaanleg te vermeerder.

Verder is daar ook gekyk na die drukklep sowel as die herstel van waterlekkasies veral by Tuscany Ridge, wat reeds vir maande ‘n groot probleem is.

Die JB Marks munisipaliteit se woordvoerder, Jeanette Tshite, het vandeesweek bevestig dat ‘n gedeelte van die beskadigde pyplyn herstel word en inwoners ingelig dat daar ‘n watertekort sou wees totdat die pyplyn herstel is. Hierdie pyplyn is teen Woensdagoggend (25 Januarie) reeds herstel.

DA raadslid in wyk 3, Anné van Onselen, het die afgelope week ook proaktief opgetree en ‘n lys van inwoners op ‘n WhatsApp-groep gestuur wat boorgatwater het om tydens die waterkrisis hulp te verleen. Sy noem ook dat sy positief is oor die vergadering wat Woensdag plaasgevind het en dat daar daadwerklike oplossings en resultate gelewer sal word.

VF Plus raadslid, Ian de Villiers, het ook genoem dat ‘n aantal voorstelle is gemaak om beide langtermyn en korttermyn verbeterings aan te bring. Die Burgemeester sal dit dan in ‘n komende raadsvergadering hopelik aan die einde van die maand bespreek.

“Die kragopwekkers hardloop weliswaar teen 50 tot 60% van kapasiteit tydens beurtkrag. Ek kan bevestig dat die kragopwekkers gehardloop het terwyl ek by die suiweringswerke was teen ongeveer 13:00 (Woensdag, 25 Januarie),” staaf De Villiers.

Tshite het die afgelope week ‘n persverklaring uitgereik waarin  daar genoem word dat beurtkrag ‘n groot rol speel in die watertekorte wat Ikageng ervaar. Sy voer ook aan dat kragopwekkers nie dadelik inskop nie, wat die pomp van water vertraag. “Hoogliggende gebiede rondom wyk 1, 9, 18, 19, 20, 26 en 27 word grootliks geraak. Daar is tans nege watertenkwaens wat die geaffekteerde areas sal bedien. Die munisipaliteit vra verskoning vir inwoners wat deur watertekorte geaffekteer is,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button