Danny vlieg met arendsvlerke sy toekoms in
“Volkies het my geleer van hard werk en deurdruk en ek sal altyd dankbaar wees vir my onderwysers en skoolhoof se ondersteuning. My grootste hoogtepunt was toe ek beste presteerder in Rekeningkunde gekry het by die prysuitdeling."
Gefokus, gedissiplineerd en hardwerkend is maar van die woorde om vir Danny Jordaan, een van Hoër Volkskool Potchefstroom se top matrikulante, wat met sewe onderskeidings spog, te beskryf.
Danny het nie altyd die maklikste roete gehad nie en het sedert 2013 by Abraham Kriel Kinderhuis gewoon.
Hy het nie dat sy omstandighede hom enigsins onderkry nie en danksy ‘n uitstekende ondersteuningsraamwerk en sy eie waardesisteem, het hy bewys dat harde werk en toewyding nie verniet is nie.
“Dit voel fantasties, en maak my nogal opgewonde vir wat voorlê. Ek het gedink aan die langtermyn voordeel van hard leer en net kop neergehou en geleer,” vertel Danny.
Danny het onderskeidings in Afrikaans (81%), Engels (81%), Wiskunde (85%), Lewensoriëntering (90%). Rekeningkunde (91%), Rekenaar Toepassingstegnologie (88%) en Ekonomie (92%) behaal.
Danny gaan vanjaar B.Com Geoktrooieerde Rekenmeesterskap aan die Noordwes Universiteit (NWU) studeer.
“My gunstelingvakke is Rekeningkunde, Ekonomie en Wiskunde aangesien dit vakke is wat ek kan toepas in soveel aspekte van my lewe vorentoe,” meen Danny.
Vir Danny maak dit nie saak of hy in die kinderhuis was nie – vir hom was dit ‘n geleentheid om met voorbeeld te lei en ‘n inspirasie te wees vir ander.
“Ek het altyd probeer om ‘n goeie voorbeeld te wees vir ander sodat hulle kan sien ongeag die situasie waarin jy jouself vind is enigeiets moontlik met harde werk. Ek het ‘n goeie ondersteuningsstelsel en dit het verhoed dat ek regtig baie uitdagings beleef het.”
Danny is vol lof vir Volkies wat hom gevorm het in die mens wie hy vandag is.
“Volkies het my geleer van hard werk en deurdruk en ek sal altyd dankbaar wees vir my onderwysers en skoolhoof se ondersteuning. My grootste hoogtepunt was toe ek beste presteerder in Rekeningkunde gekry het by die prysuitdeling aangesien ek al jare daarvoor werk en uiteindelik dit behaal het.”
Buiten die feit dat Danny in akademie uitblink, het hy ook altyd sy deel op die rugbyveld gedoen.
“Sport het my geleer dat die een wat die wen die meeste soek en die hardste daarvoor werk, dit sal kry. Ek wil ook dankie sê vir my twee tannies (Jackie en Heidi) wat my nog altyd ondersteun het en gehelp het om my doelwitte te bereik.”
Danny se advies vir matrieks is om doelwitte te hê en daarvoor te werk, maak nie saak of dit skoolverwant is of nie.
“Dink oor jou langtermyn doelwitte en prioritiseer dit wat vir jou belangrik is. As dit nie noodwendig skool is nie dan is dit ook goed.”