Local newsNewsNews

Potchefstroom se Hodgson-drieling palm 13 onderskeidings in

Kerryn het sewe onderskeidings, Ethan twee, terwyl Declan vier onderskeidings behaal.

2023 het op ‘n fantastiese noot vir Kerryn, Declan en Ethan Hodgson begin toe hulle as drieling altesaam 13 onderskeidings behaal het.

Kerryn het sewe onderskeidings, Ethan twee, terwyl Declan vier onderskeidings behaal.

Kerryn is ‘n 2022 matrikulant van Potchefstroom Girls High met Ethan en Declan wat albei in 2022 by Hoërskool Ferdinand Postma gematrikuleer het.

Kerryn behaal onderskeidings in Afrikaans eerste addisionele taal, Engels huistaal, wiskunde, fisiese wetenskap, biologie, rekeningkunde en lewensoriëntering.

Die Hodgson-drieling gesels oor hulle toekomsplanne vanjaar.

Haar boetie, Declan behaal onderskeidings in wiskunde, fisiese wetenskap, ingenieursgrafika en ontwerp en Engels eerste addisionele taal met Ethan wat sy onderskeidings in besigheidstudies en Engels eerste addisionele taal behaal.

Al is hierdie slimkoppe op dieselfde dag gebore is hulle baie verskillend as dit by hul belangstellings en persoonlikhede kom.

Kerryn hou van lees, is gefokus op haar akademie en het ook omtrent haar hele lewe lank ballet beoefen. Ethan geniet om te draf en is ‘n aanhanger van Engelse sokker, veral die Londense sokkerklub, Chelsea.

Declan hou nou weer van visvang, rugby speel en klassieke rockmusiek luister.

Wat hulle wel bymekaar bring is dat hulle ‘n werklike liefde vir dit het waarin hulle uitblink en dit kan ‘n mens sien wanneer hulle oor hulle planne vir vanjaar gesels. Declan spits homself daarop om megatroniese ingenieurswese aan die NWU te studeer.

Ethan gaan in sy ma, Heinricha, se voetspore volg en in die regte gaan. Hy gaan BA regte aan die NWU studeer. Hulle sussie gaan wel verder suidwaarts na die Universiteit van Kaapstad om medies vanjaar te studeer.

“Ek het toe ek jonger was saam met my ma Grey’s Anatomy (TV-reeks) gekyk en besluit dat ek ‘n dokter wil word. Ek hou regtig van die mediese rigting. Ek sal graag in neurologie of dermatologie wil spesialiseer,” noem Kerryn.

Van links na regs is Ethan, Kerryn en Declan Hodgson. Hierdie drieling het altesaam 13 onderskeidings behaal. Foto: Cornelia Hitge.

Kerryn vertel ook dat sy haar tyd in Girls High ongelooflik baie geniet het en dat akademie nog altyd een van haar sterk punte was.

“Ek en my boeties kan nie genoeg dankie sê vir almal wat ons in ons matriekjaar gehelp het nie. Stefan de Beer, ons wiskunde-privaatonderwyser, was uitstekend en het ons baie gehelp,” noem sy.

“Ons matriekjaar by Ferdies was ook baie lekker. Ek was deel van die leerlingraad en dit was goed vir my selfvertroue. Tussen die studies het ek ook baie touch rugby gespeel saam met my vriende en ook komediereekse gekyk om te ontspan,” vertel Declan.

Ethan voeg ook by dat dit definitief ‘n aanwins is om ‘n broer en suster in dieselfde graad te hê.

“Ons het mekaar veral met wiskunde gehelp. As die een nie verstaan nie, dan help die ander een. Ek onthou ons het sommer tot 1 uur die oggend toe geleer met al die beurtkrag,” vertel hy.

Ethan is ook van die opinie dat balans belangrik is in jou matriekjaar.

“Ek het rugby gespeel, judo en atletiek gedoen. Mens kan nie net fokus op die boeke nie.”

Al drie stem saam dat hulle ouers niks op hulle forseer nie en dat hulle self hulle eie rigting kan ingaan en dit vind wat hulle geniet.

“Ons ouers (Heinricha en Roddy) is baie ondersteunend, maar gee ons ook spasie om te kan groei. Ons sien baie uit na die jaar wat voorlê. Ons kan nie wag nie,” vertel hulle al drie met groot glimlagte op hulle gesigte.

Related Articles

Back to top button