Perderuiters vorm erewag by Kleyn-broers se gedenkdiens
“Julle lig het helder geskyn op aarde, en nou skyn jul lig daarbo. Ons gaan julle twee ysters mis.”
Die swaar en seer in die harte van ‘n Potchefstroomse ouerpaar is onmeetbaar groot nadat albei hul seuns, Werloe (20) en Jovan (15), Vrydag 20 Januarie in ‘n motorongeluk gesterf het. Op Donderdag 26 Januarie, het Werner en Linta Kleyn saam met familie en vriende die lewens van hul seuns gevier tydens hul gedenkdiens.
Voor die Hervormde Kerk Potchefstroom-Suid het ruiters met hul perde ‘n erewag gevorm vir die geliefde broers wat albei kranige perderuiters was. Albei seuns se perde was ook deel van die erewag.
Die broers het in hul kort lewens ‘diep perdespore in harte getrap’. Met deernis het Eduard von Moltke by die gedenkdiens vertel hoedat Werloe en Jovan altyd besig was, altyd vrae gevra het.
“Hulle kon opdragte uitvoer, altyd geluister, altyd gehelp met alles en wanneer hul klaar was kom vra wat daar nog was om te doen. Ek dink die Here het hulle so vroeg gevat omdat hulle lewens so vol was,” het ‘n hartseer Von Moltke gesê.
“Julle lig het helder geskyn op aarde, en nou skyn jul lig daarbo. Ons gaan julle twee ysters mis.”

Werloe en Jovan het uitgeblink in verskeie perdesporte waarin hulle ook hul Noordwes-kleure behaal het. Werner en die seuns was ook lid van die Potchefstroomse Polocrosse-klub.
In sy treffende huldeblyk aan sy nefies, het Franco Coetzee gesê:
“Julle was die naaste wat ek ooit aan boeties gehad het, en vandag is my hart die seerste wat dit nog ooit was. Alhoewel ek weet julle kan my hoor, sou ek dit graag nog een keer in persoon vir julle wou sê hoe trots ek op julle is, en hoe lief ek vir julle is. Ek kan nie wag vir die dag wat ek weer saam met julle kan wees nie. Werloe ek belowe ek sal saam met jou Whiskey drink. Jovan, ek sal jou stywer vasdruk as wat jy ooit kon. Ek het jul onmenslik lief. Rus sag my nefies.”
Herman Pretorius, skoolvriend van Werloe, het ook genoem dat hy diep spore in mense se lewens getrap het.
“Hy was ‘n ware goeie mens gewees wat altyd bereid was om mense te help, altyd ander mense se belange bo syne gestel het en was altyd daar as mens hom nodig gehad het as vriend. Wat gebeur het is baie hartseer en ‘n groot skok gewees, hy’s hopeloos te vinnig weggevat maar ons Vader daar bo het besluit hy’t hom meer nodig as ons op aarde. Ons sal hom altyd onthou.”






