Vriendegroep toer land plat in drie legendariese skedonke
‘n Toyota Cressida, ‘n Ford Laser en ‘n Opel Kadett was dié tradisionele motors wat die sterre van die rit was.
Wat kry jy as ‘n groep skoolvriende besluit om drie ou karre aan te skaf en ‘n reis van 5262 kilometer aan te durf om die land te verken?
Pret, plesier, en een asemrowende avontuur, beter bekend as die Toetertoe Trophy. Potchefstroom se eie weergawe van ‘n wafferse Top Gear-reis.
Hierdie groep Potchefstromers (meestal oud-leerders van Hoërskool Ferdinand Postma) het deur Suid-Afrika gereis, die Kaapse seelug bereik en toe weer noordwaarts na die Mooirivier teruggekeer met hulle getroue skedonke steeds in een stuk – ‘n bewys dat hierdie motors oud, maar nog glad nie koud is nie.

‘n Toyota Cressida, ‘n Ford Laser en ‘n Opel Kadett was dié tradisionele motors wat die sterre van die rit was. Die roete het in Potchefstroom begin tot in Mokopane (Potgietersrus) verby Bloedrivier met stoppe in Clarens, Bloemfontein, Middelburg, Jeffreysbaai, Mosselbaai, Garies, Groenriviermond, Pofadder, Kuruman en terug in Potchefstroom.
Elke span het net R 20 000 gehad om die motors in ‘n padwaardige kondisie vir die toer te kry. Dit sluit in alles van voertuiglisensies tot werkende enjins en die aankoop van nodige parte.
Foto’s: Verskaf
Rika Lubbe, een van die lede van die Toetertoe-Trophy groep en organiseerder van die toer noem dat hulle vriendegroep die idee gekry het vir die toer toe hulle van die Bull-Run op Van Wyksvlei gelees het.
“Ons het gedink ‘n toer deur Suid-Afrika lyk na vet pret. Ons het toe besluit ons gaan karre koop vir onder R20 000 en met dit op ‘n toer gaan deur Suid-Afrika.
Hulle het die eerste kar, ‘n 1980’s Toyota Cressida, in April 2022 gekoop. Dit het eintlik onverwags gebeur aangesien hulle aanvanklik na ‘n ou Kombi gesoek het.

“Ons het Sebokeng toe gekry om ‘n ou kombi te gaan koop, maar dié was gedaan. Ons het daar by die Chicken Licken gekyk vir enige ander opsies in die area en dis toe ons op die Cressida afkom.
Die tweede kar het ons in Junie gekry, dit was ‘n Ford Laser Tracer. Dit het ek gekoop by ‘n oom en tannie in Potchefstroom.
Die laaste kar, ‘n Opel Kadett, was op die nippertjie op ‘n plot naby Klipdrifdam gekoop. Die enjin was in stukke gewees binne ‘n inkopietrollie. Ons het die enjin in die kattebak gelaai en aan mekaar gaan sit. Dit was einde Oktober gewees en ons moes 14 Desember vertrek.”
Die groep het bestaan uit:
Die President span (Pers pette)
Ockert Lubbe
Ludwig Rontgen
Janco Malan
Rammelkas kalante (geel pette)
Rika Lubbe
Hané Zeeman
Ryno Bornman
Vian Cooke
Die Poskantoor dames (rooi pette)
Danté van Sittert
Pierre Joubert
Rian Velthuysen
(Reinhard Bornman en Carina Roos was ook deel van die toer en het met hulle eie motors die spanne vergesel, al was hulle nie amptelik deel van die spanne nie.)
Daar volg binnekort ook ‘n prysuitdeling hierdie Saterdag, 28 Januarie om te bepaal wie die groot wenner tussen hierdie drie spanne is.
Rika vertel dat daar natuurlik talle hoogtepunte en onvergeetlike oomblikke was.
“Die karre het self voor die dood omgedraai. Ons het deurgedruk met alles van gom, steel-putty, isolation tape en selfs seep op die petroltenk om die toer te voltooi,” noem sy.
“Daar was ook oomblikke van absolute chaos: Om op ‘n snelweg te ry deur n storm met oop ruite, hoeddens wat wegwaai, asbakkies wat uitmekaar val, waterbottels wat deur vloerpanele val en staatmaak op ou olielappe vir hitte,” vertel Rika.
Sy voer verder aan dat die doelwit van die toer juis in die lyding gelê het, daaruit het die grootste oorwinning gekom.
“Dis baie cool ook hoe ‘n mens daarna terugkyk. Al was dit baie lekker, asook nogal ‘n uitdaging op tye, is daai terugblik ‘n baie kosbare ding om te hê.”
Daardie oomblikke sluit in alles van uitbundige lagsessies, tot diep gesprekke waar vriende bande gesmee het juis tussen 12 motorbande en die lang oop pad wat voor hulle gelê het.
Reinhardt Bornman, boetie van Ryno, het ook met sy bakkie saam gery en gehelp met ekstra pakplek. Hy noem dat hy juis geleer het om die klein dinge te waardeer tydens hierdie avontuur.
“Ek ry eerder in ou stukkende karre saam my vriende as in n nuwe kar saam ordentlike mense. Dit is ‘n seën, nie iets wat enige iemand noodwendig verdien nie, maar iets wat ‘n mens opnuut laat besef daar is onverwagse dinge op aarde wat ‘n mens baie vreugde gee. So ‘n vriendegroep is skaars. Ons land het oneindig meer om te bied in terme van besienswaardighede en mense as wat jy ooit sal kan dink. Neem ‘n stap van geloof en toer,” meen hy.
In die toekoms glo Rika dat daar weer soortgelyke toere gereël sal word.
“Daar is reeds besprekings vir volgende toere met slegs “wagons” of “Cressidas” en selfs toere wat deur Botswana gaan. Ons wil graag ‘n shelter run begin doen, waar ons in die een dorp vir die volgende dorp se DBV kos, komberse of speelgoed in samel.”
Reinhardt eindig af met ‘n stukkie wysheid rondom die belangrikheid van vriendskap in vandag se samelewing waar verhoudings met tegnologie soms die van mense kan oortref.
“Koop die tyd uit saam met jou vriende. Gebruik geleenthede om soveel as moontlik gesprekke aan te knoop. In vandag se tyd waar selfone soveel van ons tyd, aandag en vrede gebruik, is dit bitter nodig om minstens een keer n jaar vir ‘n week of drie te vergeet van sosiale media en te onthou van jou mense rondom jou.”





















