Die woord Renaissance, beteken ‘n herlewing van iets.
In die geval van Rugby by Hoerskool Wesvalia, het daar in 2014 ‘n Renaissance onder Willem van der Sandt begin.
Van der Sandt het dadelik na sy aanstelling in 2014 met ywer begin om Wesvalia se rugby weer op koers te kry.
“Ek het begin om prosesse in plek te sit, maar wat vir my belangrik was, is dat ek die regte afrigters om my gekry het,” verduidelik hy.
Met sy ervaring as klub en provinsiale speler het hy ‘n wye netwerk van kontakte gehad op wie se knoppies hy kon druk. Met ‘n gedugte span kenners het hy te werk gegaan.

“Ek is nogal ‘n ou wat alles insit as ek iets aanpak. Ek het aan die begin gevoel as Direkteur van Rugby moet ek by elke wedstryd wees. Van die o/14 B span tot die eerste spanne,” sê hy.
Deur hierdie tipe passie en toewyding en sy en sy span se harde werk het hulle in 2016 die vrugte gepluk.
Klerksdorpers sal weet van die tradiosionele wedywering tussen Klerksdorp Hoërskool en Wesvalia. In 2016 was dit 20 jaar laas wat die manne in bruin teen die blou masjien kon wen. Tog gebeur die onwaarskynlike op die dag, Wesvalia klop vir die eerste keer in twee dekades hulle teenstanders aan die ander kant van die stad.
Van der Sandt glimlag, sy gemaklike glimlag wanneer hy daaraan terugdink, “En nou… nou is ons baie nader aanmekaar. Een jaar wen hulle en dan ons,” glimlag hy.
Die skool se Rugby het sedertien net van krag tot krag gegaan.
“Ons was altyd bekend as die akademiese skool in Klerksdorp, maar dit het tot ‘n groot mate verander, dit is nie meer die enigste aspek van die skool wat goed is nie,” vertel hy.

Van der Sandt het intussen by verskeie Luiperdsspanne ook diens gedoen maar meer onlangs is hy as die o/18 Cravenweekspan se voorspeler afrigter aangestel. Alhoewel die Cravenweek nie gegaan het soos wat hulle gehoop het nie, is daar planne in die pyplyn om te verbeter.
“Ek hou daarvan om met mense te gesels oor Rugby en afrigting. By elke ou leer ek iets anders,” verduidelik Van der Sandt.
Die term, ‘Beg, Borrow and Steal’ is ‘n goeie beskrywing van hoe Van der Sandt te werk gaan om kennis en planne in te win om sy eie spanne te verbeter.
“Niemand is ooit groter as die spel nie. Sodra jy dink jy het dit gemaak is wanneer jy gemaklik raak. Ons probeer in alles wat ons doen uit die boks uit dink,” vertel hy.
Die man agter die Rugby renaissance by Wesvalia, glimlag maklik, praat met gesag en het ‘n ongelooflike honger om meer te leer.
Volgens hom is daar ‘n baie goeie groep senior seuns wat vanjaar gaan speel. Die ander spanne in die liga sal moet katvoet wees, om een oor dié diepdenkende afrigter te kry.



