In atletiek is dit klein marges wat die verskil tussen wen en verloor is. Op die atletiekbaan tel elke breekdeel van ‘n sekonde.
Dit is hoe Andre Olivier, die nuwe eerstepan rugbyafrigter van Laerskool Baillie Park sy pos as afrigter aanpak. Hy gaan saam met Kobus Nel die seuns van Baillies brei.
“Ek glo in klein verbeteringe oor tyd. Ons moet altyd dink aan die 3% wat ons anders of ekstra kan doen om voor te bly,” verduidelik Olivier.
Dit is nie verbasend dat dit Olivier, wat ook die skool se atletiek organisserder is, se benadering is nie. Hy was van 2008 tot 2017 ‘n professionele 800 m atleet gewees. Hy het die vierde vinnigste tyd vir ‘n Suid Afrikaner opgestel, en het by Statebondspele sowel as die Olimpiese spele gehardloop.
“Ek het altyd geweet ek gaan in die onderwys ingaan, en ek het altyd geweet dat ek ‘n afrigter gaan wees. Toe ek in 2008 my loopbaan as atleet klaarmaak was dit net die logiese stap vir my,” vertel hy.
Vanjaar is sy sesde jaar by Baillies.
“Ek het met ‘n o/9 span begin, waarna ons die liga gewen het. Verlede jaar het ons saam met die tweede-span die finaal van die Noordwes liga bereik,” verduidelik hy.
Volgens Olivier het hy ‘n baie hegte band met sy spelers gevorm.
“Ek ken meeste van die seuns vandat hulle by die skool begin het. Ek het baie van hulle al van o/9 afgerig. Ek hou baie daarvan om daai persoonlike aandag aan die seuns te gee,” sê hy.
Die omgee vir sy spelers is eg, dit is duidelik dat hy nie net wil wen nie, maar ook wil sien hoe die seuns wat hy afrig na elke oefening verbeter.
“Ek het baie geleer by Mnr. Rieme, hy het soveel kennis wat hy kan oordra en ek is baie gelukkig dat hy as ‘n mentor vir my was toe, ek net begin het,” vertel hy net nadat sy mentor ‘n verskyning in sy klaskamer maak.
‘n Vinnige staaltjie maar dan weer terug na besigheid toe.
Nel en Olivier is dit eens dat oefening wedstrydverwant moet wees, die seuns moet verstaan hoekom hulle op ‘n sekere manier oefen.
“Ons is streng maar regverdig, die seuns weet, ons sê altyd, ‘The more you sweat in training the less you bleed on the battlefield’



