Man op Bult met mes aangeval en beroof
Die man is vermoedelik in sy been en rug gesteek en is met ernstige steekwonde per ER24 ambulans na Potchefstroom Hospitaal vir verdere behandeling geneem.

‘n 27-jarige man is vroeg Saterdagoggend (28 Januarie) omstreeks 02:50 in Steve Bikostraat op die Bult deur twee verdagtes met ‘n mes aangeval.
Volgens Roland Bekker, CCTV bestuurder by Mooirivier Beskerming, het kamera-operateurs die man buite Wimpy op die Bult, opgemerk waar daar opgetel is dat daar bloed by die man se been afloop.
“Ons het die man se bebloede been om 02:55 opgemerk en teen 02:57 was ons by hom om te help,” noem Bekker.
Die man is vermoedelik in sy been en rug gesteek en is op die toneel behandel. Hy is met ernstige steekwonde deur ER24 nooddienste na Potchefstroom Hospitaal vir verdere behandeling geneem.
Bekker vertel ook dat Mooirivier Beskerming op die beeldmateriaal opgemerk het dat ‘n voertuig (Nissan) die slagoffer voorgekeer het. Twee verdagtes per voet het agter hom verbygeloop, maar op die beeldmateriaal kan nie duidelik gesien word dat die man gesteek is nie, aangesien dit in ‘n donker area was. Hy is ook glo van sy rugsak beroof.
“Ons aanvaar dat die twee verdagtes daarna in die voertuig ingespring het toe die voertuig weggry. Die man het toe in die rigting van Steve Biko oor Esselenstraat teruggeloop tot by die Wimpy waar ons kameras hom opgemerk het,” verduidelik Bekker.





