Video: Landsdiens vereer Vyfhoek skoolhoof vir sy heldedaad
"Ek sal alles doen om seker te maak dat ons kinders veilig is." Mnr. Corrie Smit was bewoë toe hy die toekenning by die skool voor sy leerders en personeel ontvang het. Die kinders het hom ook omhels en gelukgewens met sy toekenning.
Vyf maande na die Laerskool Vyfhoek-tragedie waar vyf van die skool se leerders in ‘n fratsongeluk gesterf het, is die skoolhoof, mnr. Corrie Smit met ‘n toekenning vir sy dade op daardie hartseer dag, vereer.

Smit het op Donderdag, 18 Augustus 2022, self onder die trok, wat deur die skoolheining gebars het, ingeklim om te kyk of hy drie vasgekeerde skoolkinders kon red. Die kinders was alreeds oorlede toe Smit hulle polse gevoel het.
Video: Wouter Pienaar
Die Landsdiens het van hierdie gebeurtenis gehoor en besluit om Smit vir sy dade op Vrydag, 27 Januarie te vereer met die Facta Non Verba Handves vir sy onbaatsugtige toewyding tot Laerskool Vyfhoek en die skool se leerders. Landsdiens vereer mense wat een of meer van hulle vier hoofwaardes uitgebeeld het, naamlik, liefde vir ons Skepper, liefde vir die aarde en omgewing, liefde vir arbeid en liefde vir ons medemens.

Foto’s: Wouter Pienaar
Smit was bewoë toe hy die toekenning by die skool voor sy leerders en personeel ontvang het. Die kinders het hom ook omhels en gelukgewens met sy toekenning – ‘n Mens kan sien daar is ‘n sterk band tussen hierdie hoof en sy leerders.
“Ek voel baie nederig vandag. Ek het dit glad nie verwag om hierdie toekenning te ontvang nie. Op daardie dag wou ek net help. My fokus was net op die kinders,” noem Smit wat sedert Julie 2021 skoolhoof van Laerskool Vyfhoek is.
Hy vertel dat die gebede van die gemeenskap af en almal se ondersteuning hom baie gehelp het sedert daardie tragiese dag. Hy spreek ook dank uit aan die breë gemeenskap, personeel en al die mense vir hulle ondersteuning en opoffering.

“’n Mens besef dan wat ‘n groot Vader ons dien. Al die gebede het my en die skool gedra. Die gebeure is ‘n louterproses. Al verstaan ons nie hoekom die ongeluk gebeur het nie, weet ek dat ons eendag sal verstaan,” sê Smit.
“As ek dit weer moes doen sou ek om my kinders te beskerm.”
Landsdiens se Noordwes voorsitter, Elise Kleynhans, het genoem dat hierdie toekenning spesiaal vir mense toegeken word wat iets buitengewoon verrig en met hulle waardes ooreenstem.
“Ons salueer vir mnr. Smit wat liefde vir sy medemens gewys het. Facta Non Verba (die Landsdiens se leuse) beteken, dade nie woorde. Dit is presies wat mnr. Smit op daardie dag bewys het toe hy die kinders se lewens wou red,” noem Kleynhans.











