NewsNews

Onreëlmatige uitgawes van R279 miljoen kniehalter JB Marks

Die ouditeur-generaal (OG) se 2021/22 jaarverslag oor die J.B. Marks Munisipaliteit se boekjaar teken ‘n prentjie van toenemende finansiële onvolhoubaarheid. Dit is volgens Chris Hattingh, die DA se kiesafdelingshoof in die J.B. Marks Munisipaliteit, wat uitwys dat onreëlmatige uitgawes van R279 miljoen, sowel as R24 miljoen se ongemagtigde uitgawes die munisipaliteit belemmer. “Die afwaartse spiraal …

Die ouditeur-generaal (OG) se 2021/22 jaarverslag oor die J.B. Marks Munisipaliteit se boekjaar teken ‘n prentjie van toenemende finansiële onvolhoubaarheid.

Dit is volgens Chris Hattingh, die DA se kiesafdelingshoof in die J.B. Marks Munisipaliteit, wat uitwys dat onreëlmatige uitgawes van R279 miljoen, sowel as R24 miljoen se ongemagtigde uitgawes die munisipaliteit belemmer.

“Die afwaartse spiraal van die munisipaliteit is ‘n risiko vir sy finansiële volhoubaarheid. Daar is al lank ‘n kultuur van wanbesteding en ‘n gebrek aan kredietbeheermaatreëls,” noem Hattingh.

Hier is ‘n uiteensetting van die grootste rooi vlae uit die OG-verslag:

‘n Ander groot probleem wat die munisipaliteit het, is dat begrote inkomste nie realiseer nie. ‘n Voorbeeld hiervan is die daling in invorderbare inkomste sowel as huishoudelike skuld wat teen Desember 2022 amper R1 miljard beloop het. Slegs 20% hiervan word verhaal.

“Inkomste uit water- en elektrisiteitsverkope toon onderskeidelik ‘n 12% en 41% vermindering in invordering vanaf die geprojekteerde inkomste,” voer Hattingh aan.

JB Marks word ook gekniehalter met onwettige elektrisiteit- en waterverbindings, pypbarste, vandalisme en diefstal wat tot verdere finansiële agteruitgang bydra. Hattingh meen juis dat as sake vererger, die munisipaliteit heel moontlik nie in die toekoms self Eskom se kragrekening sal kan betaal nie. JB Marks is tans die enigste Noordwes-munisipaliteit wat sy Eskom-rekening betyds betaal.

Chris Hattingh, DA kiesafdelingshoof in die JB Marks Munisipaliteit, noem dat die munisipaliteit in ‘n afwaartse spiraal loop.

“JB Marks verloor miljoene rande deur onwettige water- en elektrisiteitsverbindings, terwyl die finansiële verliese weens pypbarstings en ’n vervalle infrastruktuur miljoene meer byvoeg,” stel Hattingh. 

Hattingh het ook genoem dat daar tydens die openbare raadsvergadering op Dinsdag, 31 Januarie, ‘n voorstel eenparig aanvaar is en dat ‘n gedetailleerde finansiële regstellende plan in die JB Marks-raad hierdie maand ter tafel gelê word. ‘n Aanpassingsbegroting sal ook ingedien moet word.

“Tydens die raadsvergadering het die JB Marks Uitvoerende Burgemeester, Gaba Thithiba Ka Qhele, eerder sy amptenare die skuld gegee vir die finansiële agteruitgang. Dit is na die realiteite van sy rapport as uitvoerende burgemeester waarna ons kyk. Hy kan nie homself vrywaar nie,” meen Hattingh.

*Die Herald het die J.B. Marks Munisipaliteit vir navrae op Donderdag, 9 Februarie genader maar teen druktyd nog nie terugvoer ontvang nie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button