
AfriForum het van Augustus tot November 2022 verskeie dorpe in Noordwes se water getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- (bloudruppelstatus) en rioolwater (groendruppelstatus) te bepaal.
“Ons kon vasstel dat Biesiesvlei, Bloemhof, Brits, Christiana, Delareyville, Groot Marico, Hartbeespoort, Klerksdorp, Koster, Lichtenburg, Mooinooi, Orkney, Ottosdal, Potchefstroom, Rustenburg, Sannieshof, Schweizer-Reneke, Stella, Stilfontein, Swartruggens, Ventersdorp, Vryburg en Wolmaranstad se drinkwater aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterieë bevat nie. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets want inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon drinkwater,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland. Slegs Coligny het nie aan die standaard voldoen nie.
Volgens AfriForum se groendruppeluitslae voldoen 17 rioolsuiweringsaanlegte wat getoets is, nie aan die gestelde mikrobiologiese standaarde nie. Potchefstroom sowel as Ventersdorp is onder hierdie 17 munisipaliteite.

“AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte. Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word,” sluit Nel af.
“Dit is ook duidelik uit die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se blou-en-groen-druppelverslag dat daar rede tot kommer is in Suid-Afrika. Hoewel die toestand van die krag in Suid-Afrika erg en uitdagend is, kan dit nie vergelyk met die waterkwessie waarop Suid-Afrika afstuur nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.
AfriForum sal ook sodra die departement hulle nuutste verslag bekendmaak dit noukeurig deurwerk en moniteer.
As die bewaarder van water kom die DWS nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige partye is nie. Dit is van kardinale belang dat ons sonder ophou die gehalte van ons drink- en rioolafvalwater toets. Ons moet dié lewensbelangrike bron beskerm.




