Studenteleier afgedank glo weens vertrouensbreuk
"Die waarheid is dat ek probeer opstaan het vir wat reg is en die studente, wie my in hierdie leierskap posisie ingestem het wou beskerm en verdedig.”
Die Kampusstudenteraad (KSR) van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus het een van hulle studenteleiers uit haar amp geskop glo omdat sy die vertroue van die KSR gebreek het.
Beàtha Groenewald, wat die portefeulje van Sekretaresse beklee het, is op Dinsdag, 14 Februarie uit haar amp verwyder.
Dit volg glo nadat studente in dorpskoshuise uitgesluit gevoel het die afgelope Saterdag, 11 Februarie toe hulle nie die eerstejaarsfunksie op die Amfiteater kon bywoon nie en eerder dit in aparte lokale met ‘n regstreekse uitsending moes kyk. AfriForum Jeug het ‘n persverklaring op Sondag, 12 Februarie uitgereik waar hulle beweer dat studente glo ook in opstand kom oor rasse-uitsluiting.
“Die HK het navraag gedoen by die studenteraad (SR) oor hierdie besluit waarop die SR-lid geantwoord het dat die dorpskoshuise nie divers genoeg is nie en dat wanneer hulle tydens die amfiteatersessie gevra gaan word om op te staan dit te wit gaan lyk,” het René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug gesê.

Die NWU het sedertdien ‘n verklaring uitgereik en verduidelik dat bewerings rondom uitsluiting op grond van ras ongegrond is en dat die rede vir die uitsluiting oor die kapasiteit van die amfiteater sowel as die handhawing van veiligheidsmaatreëls gegaan het.

Groenewald het by navraag bevestig dat sy van haar pligte as sekretaresse onthef is. Sy het ook genoem dat sy opgestaan het vir die studente en vir wat reg is.
“Die optrede teen my is op onregverdige gronde gedoen. Ek moet tans bepaal hoe ek die situasie verder gaan hanteer. Ek is afgedank op gronde dat ek vertroue met die Studenteraad gebreek het, maar die waarheid is dat ek probeer opstaan het vir wat reg is en die studente, wie my in hierdie leierskap posisie ingestem het wou beskerm en verdedig.”
Die KSR het in ‘n skrywe genoem dat hulle ‘n stemming bereik het en meer as 12 lede van dié raad saamgestem het om Groenewald se termyn te beëindig.

“Die KSR is verantwoordbaar tot ons studentegemeenskap en sodoende het ons ‘n plig om ons studenteleiers verantwoordbaar te hou. Die hoofbeswaar is dat konfidensiële inligting met eksterne partye gedeel is. Die KSR het ‘n mosie van wantroue ingeneem in ooreenstemming met die institusionele reëls rakende studentebestuur,” lui die verklaring.
Die KSR het genoem dat Carissa de Klerk (KSR Akademiese Beampte) as waarnemende Sekretaresse vir die 2022/23 termyn sal optree.




