Local newsNewsNews

NWU beklemtoon dat bewerings oor uitsluiting weens ras ongegrond is

Die NWU se ondersoek het dit aan die lig gebring dat die bewerings rakende uitsluiting op grond van ras of identiteit ongegrond is.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het amptelik die bewerings ondersoek dat eerstejaarstudente van die dorpskoshuise uitgesluit was van die amptelike verwelkomingsgeleentheid in die Amfiteater op die Potchefstroomkampus wat op Saterdag, 11 Februarie plaasgevind het.

Volgens die NWU se ondersoek is die bewerings rakende uitsluiting op grond van ras of identiteit ongegrond. Dit nadat AfriForum Jeug beweer het dat studente wel weens ras by die eerstejaarsfunksie in die Amfiteater uitgesluit is.

Die ondersoek het samesprekings met die Kampus Studenteraad (KSR) asook die Koshuisouers en die betrokke Huiskomitees (HK’s) behels.

“Ons kon geen bewyse vind wat die bewerings ondersteun nie. Sou enige bewyse onder die aandag van die bestuur gebring word, sal die nodige prosesse ontvou,” noem NWU woordvoerder, Louis Jacobs.

Rakende AfriForum Jeug se vrae oor die gebrek aan kapasiteit vir die eerstejaarstudente van die dorpskoshuise, het die NWU genoem dat die aantal toegekende sitplekke deur verskeie wetgewing en reels, insluitend die Beroepsgesondheid- en Veiligheidstandaarde bepaal word.

“Die universiteit verseker altyd dat lokale beskikbaar is om die aktiwiteite by die hooflokaal, soos die Amfiteater, waar die Potchefstroomkampusverwelkoming plaasgevind het, regstreeks te stroom. Van die dorpskoshuise en buitekampusstudente is sitplekke toegeken by die lokale waar die eerstejaarverwelkoming regstreeks uitgesaai is,” verduidelik Jacobs.

Die NWU het ook hulle verbintenis tot tot diversiteit en inklusiwiteit beklemtoon en genoem dat geen optrede geduld sal word wat strydig is met hierdie beginsels nie.

“Dit is jammer en betreurenswaardig dat daardie koshuise uitgesluit gevoel het van die hoofgeleentheid. Bestuur erken kommer en die teleurstelling van alle belanghebbendes. Ons sal ‘n inklusiewe proses vestig wat sal verseker dat alle studente op en van die kampus ten volle deelneem en ingesluit voel by alle gebeure en aktiwiteite van die universiteit,” voer hy verder aan.

René van der Vyfer, AfriForum Jeug woordvoerder, het vroeër vandag aan die Herald genoem dat hulle ‘n brief aan die uitvoerende direkteur van studentelewe by die Noordwes-Universiteit (NWU), dr. Sibusiso Chalufu, gestuur het en teen Maandag, 20 Februarie terugvoer op hulle vrae verwag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button