DA hoogs ontevrede oor burgemeester se afwesigheid
Volgens die DA het die GOP-verslag wat gister met inwoners gedeel is, ook talle onakkuraathede bevat. Versoeke wat 'n jaar gelede, tydens die vorige GOP openbare deelnameproses ingedien is, is ook nie in die verslag opgeneem nie.
Die DA in die JB Marks Munisipaliteit het vandag (Donderdag, 16 Februarie) hulle misnoeë uitgespreek oor die uitvoerende burgemeester, Gaba Ka Qhele se afwesigheid by die Geïntegreerde Ontwikkelingsprogram (GOP)-vergadering wat op Woensdag, 15 Februarie by die Madiba Banketsaal sou plaasvind.
DA raadslid, Bertus le Roux, noem dat hierdie openbare vergadering ontsettend belangrik is om insette oor dienslewering en infrastruktuurontwikkelingsbehoeftes van inwoners en sakebelanghebbendes te verkry vir die oorweging van befondsing in die begroting vir die volgende finansiële jaar.

“Burgemeester Gaba Thithiba Ka Qhele het ‘n statutêre verpligting om die GOP-openbaredeelname-verrigtinge te voer, maar slegs ‘n paar munisipale amptenare was by die openbare vergadering, waar ongeveer 200 inwoners van 11 JB Marks-wyke byeengekom het om aan die GOP-proses deel te neem, teenwoordig,” staaf Le Roux.
Volgens die DA het die GOP-verslag wat gister met inwoners gedeel is, ook talle onakkuraathede bevat. Versoeke wat ‘n jaar gelede, tydens die vorige GOP openbare deelnameproses ingedien is, is ook nie in die verslag opgeneem nie.

Munisipale amptenare het glo die DA versoek om aan inwoners te verduidelik dat burgemeester Gaba Thithiba Ka Qhele dit nie sal bywoon nie en dat slegs die burgemeester die verrigtinge kan lei.
Omgekrapte inwoners het saamgestem om eerder die vergadering na ‘n nuwe datum te skuif. Die burgemeester se afwesigheid het hulle as skandelik en oneerbiedig beskryf.
“Die DA gaan die ontevredenheid van inwoners aan burgemeester Gaba Thithiba Ka Qhele oordra sowel as hul frustrasie met swak dienslewering, ondoeltreffende inbelsentrumbedrywighede, en ‘n gebrek aan aanspreeklikheid deur homself, sy Burgemeesterskomitee, en die administrasie van die munisipaliteit,” stel Le Roux.
Die DA dring ook daarop aan dat die burgemeester verseker dat die korrekte GOP-verslag betyds aan inwoners beskikbaar gestel moet word om inwoners genoeg tyd te gee om dit te bestudeer en vir die uitgestelde GOP-vergadering voor te berei.
*Die Herald het ook nog nie terugvoer van die munisipaliteit ontvang rakende die uitvoerende burgemeester se afwesigheid nie.






