Local newsNewsNews

Dubbele vreugde: Ferdies weer vereer as nommer een skool in die provinsie

In 12 van Ferdies se 18 vakke beklee hulle ook die eerste plek in Noordwes, wat ‘n ongelooflike prestasie is.

Hoërskool Ferdinand Postma is vanjaar weer uit verskeie oorde vir ‘n skitterende 2022 akademiese jaar vereer en is as die top presterende akademiese skool in Noordwes aangewys.

Die toekenning as nommer een skool in die provinsie kom vanaf die Noordwes Departement van Onderwys sowel as Solidariteit se SOS (Skole Ondersteuningssentrum)-verslag wat Ferdies se prestasies teen die beste skole landswyd meet.

Volgens die SOS-matriekverslag val Ferdies onder die top 10 skole met die hoogste persentasie kandidate wat wiskunde in matriek geskryf het (10de in die land). Ferdies het ook die meeste onderskeidings per getal kandidate in Noordwes, sowel as agtste algeheel onder Afrikaans mediumskole en 18de in die land.

Uit 80 kandidate het Ferdies 204 onderskeidings behaal wat op ongeveer 2.5 onderskeidings per matriek uitwerk. In 12 van Ferdies se 18 vakke beklee hulle ook die eerste plek in Noordwes, wat ‘n ongelooflike prestasie is.

Video: Cornelia Hitge

Ferdies vat die prys as die top skool in wiskunde in die provinsie en 12de algeheel in die land. Hulle is ook tiende in die land rakende skole met die hoogste persentasie kandidate wat wiskunde geskryf het.

Ferdies is ook tiende in die land ten opsigte van fisiese wetenskap en IGO. In Afrikaans Huistaal is hulle 17de in die land, terwyl in besigheidstudies hulle ‘n 18de plek in die land sowel as ‘n tweede plek vir Afrikaans-medium skole vat.

Dit is nie verbasend dat Ferdies se adjunkhoof en akademiese hoof, mev. Annette Stander, met ‘n groot glimlag vertel waar die skool se sukses lê nie. Met soveel toekennings en akademiese uitnemendheid is dit ‘n kombinasie van ‘n verskeidenheid faktore: harde werk, toegewyde onderwysers, ‘n oog om kinders se potensiaal te ontwikkel reeds van graad 8 af en ‘n fokus op elke leerder te sit en seker te maak dat die beste onderrig gegee word.

“Om vir 23 jaar ‘n 100% slaagsyfer te hê is fantasties, maar wat vir my uitstaan is dat amper al ons matrieks graadtoelating verkry het. Dit is belangrik dat ons as skool vir kinders moontlikhede gee om verder te gaan studeer en ‘n sukses van hulle lewens te maak,” vertel Stander. Sy noem ook dat ‘n groot sleutel vir akademiese prestasie by ‘n gedugte span onderwysers lê wat ‘n werklike passie vir hul vakke het. “Die kinders weet dat hulle nie misgekyk word nie.

Hoërskool Ferdinand Postma is weer as die nommer een skool in Noordwes aangewys ten opsigte van die 2022 matriekuitslae. Van links na regs is Stephan Bronkhorst (hoofseun), mev. Annette Stander (akademiese hoof) en El-zaan Palm (hoofdogter). Foto: Cornelia Hitge.

“Ons klasse is nie te groot nie en elke kind kry die nodige aandag. Onderwysers kan ook van vroeg af sien as daar ‘n leerprobleem is en of die kind ekstra hulp nodig het,” meen Stander. Sy is ook dankbaar vir ‘n beheerliggaam wat fantastiese werk doen, sowel as die nuutste tegnologie en leermetodes waaraan leerders blootgestel word. Die NWU se vennootskap met Ferdies is ook iets wat sy hoog op prys stel en noem dat dit vrugte afwerp, soos die NWU SETH-akademie.

By Ferdies is akademiese uitnemendheid ‘n deurlopende proses waar leerders en onderwysers hande vat en die pad na sukses stap.

“’n Kind se pad na matriek begin reeds in graad 8 en ek glo dat ons die grondslag reeds daar lê om akademiese sukses te behaal.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button