Grasgroen munisipale swembad ‘n skreiende skande
Met die Herald se besoek aan dié swembad Dinsdag, 21 Februarie is die swembad groen, met alge wat duidelik op die bodem en kant van die swembad sigbaar is.
Slegs drie maande nadat die munisipale swembad in Beyers Naudelaan vir die eerste keer sedert 2020 weer vir die publiek oopgestel is, is dit grasgroen en vir die publiek onbruikbaar.
Met die Herald se besoek aan dié swembad op Dinsdag, 21 Februarie is die swembad groen, met alge wat duidelik op die bodem en kant van die swembad sigbaar is. Die kleur van die water is ook dof met geen sigbaarheid tot op die bodem nie.
Daar is ook gerugte dat die munisipaliteit se skoonmakers nie die swembad in stand hou nie en dat lewensredders op die perseel tans daarvoor verantwoordelik is.


Die J.B. Marks Munisipaliteit voer aan dat aanhoudende reën eintlik die rede vir die huidige toestand van die swembad is. Die munisipaliteit noem ook dat skoonmakers op ‘n daaglikse basis werk om die swembad in stand te hou, maar dat aanhoudende reën die swembad se kleur verander het.
“Blootstelling aan hoë hitte verhoog ook die risiko vir swembadalge om te ontwikkel. Reën wat val tel stof, stuifmeel en besoedelingstowwe op, wat algespore insluit,” noem J.B. Marks woordvoerder, Jeanette Tshite.
Pamela Mackor van die Potchefstroom Onderwaterhokkieklub noem aan die Herald dat hulle spelers teen Maandag gesukkel het om te oefen aangesien hulle mekaar nie in die groen water kan sien nie. Hulle het net in die vlak kant geoefen, waar die waterkwaliteit effens beter as aan die diep kant is.

Die swembad by Potchefstroom Dam is op hierdie stadium in ‘n baie beter toestand.
Die Herald het in November 2022 berig dat die DA in samewerking met die Potchefstroom Onderwaterhokkieklub toegesien het dat die munisipaliteit die swembad dreineer, die krake herstel, die swembad hervul, foutiewe swembadpompe vervang en die ablusiegeriewe tot op standaard bring.

Die swembad is reeds op 27 Januarie tydelik vir ‘n dag weens veiligheidsredes gesluit, toe beurtkrag die swembadpompe geaffekteer het. Die swembad was toe ook onbruikbaar. Die situasie is wel tydelik opgelos, maar nou, ‘n maand later, blyk dit of daar dringende ingryping nodig is. Die munisipaliteit voer aan dat die swembadpompe wel werk, maar dat reën sake bemoeilik aangesien dit die waterbalans in die swembad affekteer.

“Reën verdun die sianuursuur, verlaag kalsiumhardheid en beïnvloed algehele alkaliniteit. Soos die suurreën deur die somerlug val, tref dit die swembad op ‘n baie lae pH, wat swembad pH en totale alkaliniteit verminder,” voer Tshite aan. Sy het ook bevestig dat daar genoeg kloorgas is vir die instandhouding van die swembad.




