Alabama-studentegeselskap kuier ‘n hond uit ‘n bos by 80 jaar feesvieringe
Oud-lede uit verskeie generasies het behoorlik partytjie gehou by hierdie spesiale reünie wat by Totius-saal op die NWU Potchefstroomkampus plaasgevind het.
Die bekende Alabama-studentegeselskap het op Saterdag, 25 Maart hulle 80ste bestaansjaar met ‘n groot fees gevier.
Oud-lede uit verskeie generasies het behoorlik partytjie gehou by hierdie spesiale reünie wat by Totius-saal op die NWU Potchefstroomkampus plaasgevind het.
Hierdie sang-en musiekgroep was vir jare vanaf 1943 tot en met 2007 een van Potchefstroom se bekendste uitvoerprodukte. Talle vertonings is gelewer, honderde liedjies is opgeneem en geskep. Daar is verskeie toere deur die jare ook meegemaak met ‘n toer na Taiwan in die 1980’s wat een van die hoogtepunte was.
Foto’s: Tian du Preez/NWU
Chris de Bruyn, wat vanaf 1986-1992 lid van Alabama was, het hierdie byeenkoms gereël. Hy noem dat die idee vir die byeenkoms by ‘n oud-kollega en mede Alabama-lid gekry het, wat genoem het dat die Alabama vanjaar 80 is.
“Dit was ‘n fantastiese kuier van ongeveer 160 lede wat die feesvieringe bygewoon het. Daar was lede vanaf 1957 tot en met 2007 wat hier uit verskillende generasies was,” noem hy.
“Ons almal het lekker gesels oor saam oefen, toere en allerhande lekker tye. Daar is ‘n gemeenskaplike band tussen al die lede,” vertel hy verder.
Johan van Rensburg, die oudmusiekregisseur en erepresident van Alabama, was ook teenwoordig saam met sy vrou, die bekende sangeres, Rina Hugo.




Van Rensburg, sy broer, Louis en Koos Lessing het ook ‘n orkesopvoering gelewer waar talle liedere ook gesing is om die herinneringe weer te laat herleef.
Van Rensburg het ook ‘n toespraak gelewer en meer oor die geskiedenis van hierdie studentegroep gesels. Daarna was dit volstoom kuier!
Ander bekende gesigte wat die verrigtinge bygewoon het was oud-rektore, Prof. Carools Reyneke en dr. Theuns Eloff, sowel as voormalige Potchefstroomkampus rektor, prof. Annette Combrink. Eloff se vrou, Suzette, was ook deel van die Alabama-studentegeselskap.
Ander oud-lede en bekende figure wat nie self kon bywoon nie is dr. Pieter Mulder, voormalige VF-Plus leier, dr. Dirk Hermann (bestuurshoof van Solidariteit) sowel as die sangeres, Anna Davel.


















