Edwin positief oor sy tweede kans in die lewe
“Oor ‘n paar maande wanneer ek weer kan loop gaan ek almal wat my ondersteun en help, wys dat dit die moeite werd is.”
“Oor ‘n paar maande wanneer ek weer kan loop gaan ek almal wat my ondersteun en help, wys dat dit die moeite werd is.”
So vertel Edwin Nelson (18) positief en dankbaar vanuit sy hospitaalbed in Mediclinic Potchefstroom oor die hulp en ondersteuning wat vanuit die gemeenskap ingestroom het sedert sy motorongeluk, waartydens altwee se bene onder die knie afgesit is.

Edwin, ‘n oud-Gimmie en onderhokkiekaptein van die eerste seunshokkiespan in 2022, was Sondagoggend, 28 Mei in ‘n motorongeluk omstreeks 04:30 op die R53 (Paryspad) betrokke. Edwin was Saterdag in Potchefstroom vir jaarlikse Gimmie-Volkie Classic Clash naweek.
Hy was op pad vanaf Potchefstroom na sy huis in Vaalpark, toe hy beheer oor sy motor verloor het.
“Alles het so vining gebeur. Ek het om ‘n draai gegaan en beheer oor die kar verloor. Ek was ‘n lang ruk alleen gewees voor iemand my kon help. Ek het baie bloed verloor en net vir myself gesê dat ek moet wakker bly,” vertel Edwin.
Die bestuurder van ‘n voertuig het by Edwin gestop en die polisie en ambulansdienste gebel. Weens die aard van sy beserings is daar besluit om Edwin se bene te amputeer.
Edwin is nou alreeds vyf dae in die hospitaal en straal ‘n veggees en positiewe houding uit. Volgens hom is hy net bly om steeds te lewe.

“Ek voel dat ek ‘n tweede kans in die lewe gekry het. Beslis. Ek is baie dankbaar vir hoe vriende, familie en almal wat my ken my ondersteun en daar is vir my. Die enigste tyd wat ek hul nie sien nie is as ek slaap,” noem Edwin met ‘n glimlag.
Hierdie ondersteunersgroep wat ook van sy beste pelle wat in Gimmies was, insluit, het alreeds vir hom behoorlik met kaartjies, sjokolades en lekkernye bederf.
“Die ondersteuning en net daar wees help alreeds so baie,” voeg hy by.
Hy is opgewonde oor die pad vorentoe, al gaan dit ‘n lang pad na herstel wees.
“Vir nou is dit die belangrikste om vir die volgende 2-3 maande op rehabilitasie en fisio te fokus. Met die regte prostese sal ek weer kan aangaan en ‘n lewe kan lei. Baie dokters en spesialiste het al met my kom praat ook, so ek is positief oor die pad vorentoe,” sê Edwin.
Daar is ook ‘n fonds gestig om met sy mediese onkostes, terapie en prostese te help.
Bankbesonderhede vir Edwin Nelson se fonds is as volg:
#EdwinNelsonFund
Auditor Managed Fund for Medical Treatment and Prosthesis
ABSA
Rekeningnommer: 9302266773
Takkode: 632005




