Local newsNewsNews

Kommer wek oor beplande mynbouaktiwiteite op landbougrond

"In antwoord op indringende en wydlopende vrae deur die VF Plus en ander teenwoordiges, het dit geblyk dat daar bloot ʼn oppervlakkige omgewingsimpakstudie gedoen is in Kesoram se poging om prospektering-en mynregte in Palmietfontein te verkry."

Voorgenome mynbouaktiwiteite by Palmietfontein het die Vryheidsfront Plus sowel lede van hierdie gemeenskap tussen Potch en Ventersdorp warm onder die kraag.

Die VF Plus is sterk gekant teen Kesoram Investments se voorgenome myn by Palmietfontein tussen Potchefstroom en Ventersdorp.

Die VF Plus het alreeds in April vanjaar as belangstellende party rakende die mynbouaktiwiteite geregistreer.

Daar is Vrydag, 9 Junie ‘n gemeenskapsvergadering gereël wat VF Plus, boere, sakelui en ander lede van dié landelike gemeenskap bygewoon het. Thevha Sustainable Services het Kesoram as omgewingskonsultant tydens hierdie vergadering verteenwoordig.

Volgens die VF Plus is daar nie ‘n behoorlike deursigtige openbare deelname proses uitgevoer nie.

“In antwoord op indringende en wydlopende vrae deur die VF Plus en ander teenwoordiges, het dit geblyk dat daar bloot ʼn oppervlakkige omgewingsimpakstudie gedoen is in Kesoram se poging om prospektering-en mynregte in Palmietfontein te verkry,” noem VF Plus raadslid, Marlene Steyn-Du Toit, in ‘n persverklaring.

Hierdie mynbou-aktiwiteite kan negatiewe gevolge op landbou en ander verwante bedrywe inhou. Een van die grootste kommerpunte is besoedeling van skaars ondergrondse waterbronne, beskadiging van vleilande, sowel as die gevaar wat lugbesoedeling inhou.

“Die lanbousektor in Potchefstroom en Ventersdorp vorm die ruggraat van die plaaslike ekonomie en is verreweg die grootste werkskepper in die gebied,” meen Steyn-Du Toit.

Kesoram se verteenwoordigers kon geen waarborge verskaf dat mynbedrywighede en prospekteringsgate nie die wande van ondergrondse waterkompartemente in die gebied sal versteur of beskadig nie.

Thevha het toegegee dat kwessies eers nagevors moet word wat onder meer ʼn omgewingsimpakstudie, ʼn erfenisstudie, ʼn grondwater-impakbeoordelingsverslag en ʼn besoedelingsverslag insluit.

Navorsingsuitslae hiervan sal aan alle betrokkenes beskikbaar gestel moet word vir kommentaar.

“Dit is duidelik dat enige mynbedrywighede in hierdie ekologies-sensitiewe gebied, rampspoedige gevolge vir die omgewing, plaaslike boere, sakelui en ander inwoners sal inhou. Die VF Plus in JB Marks sal die situasie monitor en sal bly stry teen enige onoordeelkundige mynbou-ontwikkeling in die munisipale gebied wat die belange van inwoners bedreig,” voer Steyn-Du Toit aan.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button