Helikopter ‘n groot aanwins vir Potch en provinsie in brandseisoen
Volgens dr. Kobus Roux, voorsitter van die Potchefstroom Brandbeskermingsvereniging, is hierdie helikopter in Potch geplaas as gevolg van 730 000Ha gras en gewasse wat in 2022 in die provinsie afgebrand het.

Die Noordwes Sambreel Brandbeskermingsvereeniging het onderhandel dat ‘n Huey helikopter van Working on Fire (WoF) in Potchefstroom gestasioneer is om diens te lewer tydens die huidige brandseisoen.
Die gebruik van hierdie helikopter sal tot groot voordeel strek om veldbrande asook plaasbrande effektief te kan bestry. Hierdie geel helikopter is by die SAPS lugvleuel in Potchefstroom tot einde Augustus gestasioneer. Volgens dr. Kobus Roux, voorsitter van die Potchefstroom Brandbeskermingsvereniging, is hierdie helikopter in Potch geplaas as gevolg van 730 000Ha gras en gewasse wat in 2022 in die provinsie afgebrand het.

“Die koste word deur die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) gedra vir staat instellings en kommunale grond. Privaat grond eienaars mag ook die helikopter aanvrae teen koste. Baie versekeringsmaatskappye dra ook die koste hiervan. Daar word tans hard gespook om fondse bewillig te kry deur distrik rampbestuur om gewone boere te help tydens buite beheer veldbrande,” noem Roux verder.
Om brande te bestry is nie ‘n eenvoudige operasie nie en bevat baie spanwerk sodat die Huey helikopter effektief gebruik kan word.

“‘n Cessna-vliegtuig vergesel ook die Huey en dien as ’n “spotter”. Die spotter kry opdragte van die bevelvoerder op die grond en gee deur na die Huey oor waar om water te gooi. Hulle word ook vergesel deur ‘n (HSV) voertuig wat paraffien vervoer om die Huey aan te vul tydens brandbestryding. Die pakket kom teen ‘n bedrag van +- R50 000 per uur,” verduidelik Roux.
Die aktivering van die Huey word slegs deur die Noordwes Sambreel Brandbeskerming voorsitter, Mnr. Eric Stoch) gedoen.

Die Noordwes Sambreel Brandbeskermingsvereeniging het ook op Donderdag, 22 Junie hulle algemene jaarvergadering gehou waar daar saam met verskeie brandbestrydersvereenigings, brandweer, Working on Fire en ander belanghebbendes vergader is.
Interessante inligting oor die Huey Helikopter:
- Die Huey is ‘n 1966 model wat in die Viëtnamese oorlog gebruik was
- Die Huey se volle naam is Bell UH-1 Iroquois
- Working on Fire (WoF) het ‘n paar aangekoop as gevolg van hulle krag en deursettingsvermoë onder druk in moeilike toestande.
- ‘n Bambi bucket word in die helikopter gestoor, wat 1200-1500 liter water op ‘n slag kan opskep en op vure gooi.
- Die Huey dra ook 6 brandweerpersoneel wat op die grond geplaas word en fisies brande blus waar die loods water gegooi het.




