Inwoners sukkel steeds met rioolkrisis by pompstasie
Die stank van rou riool kan steeds by die pompstasie in Chris Hanistraat daagliks geruik word.
“Ons asem die vrot reuk in en dan stink ons huis ook daarvan. Verder word daar ook buite die pompstasie gemors, terwyl die grasse ook al hoe langer om die pompstasie word.”
Dit was vyf maande gelede die woorde van Alida Bezuidenhout, ‘n Potchefstroomse inwoner, wat langs die pompstasie in Chris Hanistraat woon.
Sake het sedertdien glad nie verbeter nie, waaroor inwoners nou keelvol is.
Die Herald het in Januarie vanjaar berig dat volgens J.B. Marks munisipale woordvoerder, Jeanette Tshite, die pompstasie sedert 2022 meganiese probleme ondervind. Verder het Tshite gesê dat ‘n bykomende bystandpomp korttermyn gebruik word wat meer instandhouding en monitering verg om blokkasies hok te slaan.
“Die munisipaliteit is in die proses om ‘n diensverskaffer aan te stel om te keer dat meer stortings plaasvind en te verseker dat inwoners nie aan die besoedeling blootgestel is nie,” het Tshite gesê.

Dit is nou vyf maande later, en steeds is daar niks gedoen om die probleem op te los nie.
Heinricha Hodgson, DA raadslid van wyk 5, het 10 Mei vanjaar vrae aan die munisipale bestuurder gerig rondom die pompstasie en die vervanging van die pompe. Hierdie vrae is egter nog nie beantwoord nie. Hodgson sê dat daar op ‘n bosberaad die versekering gegee is dat die pompe wel bestel is vanuit die buiteland en dat die hele proses van installasie en opgradering teen einde Augustus 2023 voltooi sal wees.
Pieter en Dries Grimbeek, boere in die omgewing, het in Januarie aan Die Herald gesê dat die riool ‘n skadelike uitwerking op hul boerdery het.
“Ons beeste wei naby waar die rivier in die veld inloop. Twee van ons sterk kallers het gevrek. Dit is reeds groot skade en dit is ‘n groot moontlikheid dat dit die water is. Ons moet nou op ander spuitprogramme gaan. Die inwendige parasiete is net te veel en ons kry dit nie onder beheer nie,” het Pieter gesê.
Bezuidenhout sê dat die reuk onuithoudbaar is, veral wanneer die wind waai. Die reuk is egter nie al probleem nie. “Ek reken die groot probleem is riool wat in die veld opdam en ‘n seeroog is van die pad af. Dit loop ook na die dorp asook na Obara se kant toe. As jy van die dorp se kant af ry na die pompstasie verby Mike’s Kitchen, sien jy dit in die veld aan die huise se kant,” sê Bezuidenhout.
Bezuidenhout en haar man, Peet, het aan die begin van die jaar gerapporteer dat die lang gras rondom die pompstasie wat verby hulle erf loop ook ‘n geleentheid gee vir werkloses om daar te ontlas, wat die probleem vererger.
Volgens Bezuidenhout is daar tans drie werkloses wat voor die pompstasie bly.
‘n Ander inwoner, Anita Smit, noem ook dat die reuk onuithoudbaar is.
“Die rou riool begin nou opstoot vanaf die pompstasie in die rigting van die dorp ook, reg agter ons huise. Dit het eers net na die riete se kant uitgeloop. Dit is ‘n gesondheidsrisiko,” vertel Smit verder.
Sy noem dat daar mense in die veld slaap, en dat hulle ‘n verdere risiko inhou.
“Dis ‘n gedurige gedrink en bakleiery. Baie nagte lawaai hulle tot in die vroeë oggendure en mens slaap nie. Daar is ‘n buurtwag en Mooirivier Beskerming wat patrolleer, maar die mense vat vinnig pad en kom dan net weer terug.”




