Motorongeluk eis toegewyde oud-Gimmie rugbyspeler se lewe
JD van den Berg (23) was 'n dromer wat 'n passie vir mense, jonk en oud, gehad het. Buiten sy passie vir rugby was hy ook 'n kranige sanger en kitaarspeler.
Die lewe van die oud-Gimmie, JD van den Berg (23), is Vrydagmiddag (30 Junie) tragies kortgeknip nadat hy in ‘n kop-aan-kop motorbotsing op die Rysmierbultpad, ongeveer 20km buite Potchefstroom, oorlede is.
Sy pa, Johan, vertel hoe hy, sy vrou, Marlucia en oudste seun, Marco (26) op JD se ongelukstoneel afgekom het na hulle hom gaan soek het. Hy en sy gesin het bekommerd geraak toe JD nog nie by hulle gearriveer het nie, en sy Whatsapp-boodskappe ook nie deurgegaan het nie.
“JD was op pad terug huis toe van Sol-Tech in Pretoria, waar hy studeer het om ‘n meulmaker te word. Hy het nog nie by die huis opgedaag nie en toe het ons hom gaan soek. Toe ons by die ongelukstoneel verby ry, het ek my bakkie gesien. Ek kon darem daar by hom wees al is dit ongelooflik moeilik,” noem Johan.
JD het alleen bestuur toe hy en die 41-jarige bestuurder van die ander motorvoertuig omstreeks 17:00 teen mekaar gebots het. Hy het glo nie sy veiligheidsgordel aangehad nie en is uit die bakkie geslinger.
JD word onthou as ‘n jong man met ‘n wye reeks belangstellings en talente wat toegewyd was in alles wat hy aangepak het. Hy was geliefd onder sy vriende, oud en jonk en sy familie. Hy was ‘n staatmaker met ‘n hart vir sy medemens.

“JD was ‘n dromer en mense was sy passie. Hy sou vriende maak met mense wat hom afgerig het en hy sou ook maklik oor die weg kom met mense jonger as hy wat hy self afgerig het. Hy het sy alles gegee daar waar hy was,” noem sy pa.

JD het in 2018 by Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer. Hy was ‘n kranige rugbyspeler wat vir Gimmies se eerste rugbyspan gespeel het in sewes verteenwoordig het en ook later vir die NWU op o.20 en eerste span uitgedraf het. Hy was ook betrokke by Gimmies as rugbyafrigter en het suksesvolle seisoene saam met Phillp Janse van Rensburg by sy alma mater beleef.

Sy rugbyafrigter op skool vanaf o.16 en eerstespanvlak, Bertus Pool, noem dat JD soos ‘n kind in hul huis was en hy baie geheg aan hom was.
“JD was ‘n spesiale tipe ou. Ek dink nie almal het hom altyd verstaan nie – hy was maar ‘n “free spirit”. Hy was ook baie toegewyd in dit wat hy aangepak het. Rugby en rugbyafrigting was van sy passies. Dit gaan moeilik wees om te weet dat JD nie meer daar is nie en ons gaan hom baie mis. ‘n Mens waardeer die tyd wat mens met hom vir jare kon saamstap,” vertel Bertus.
JD was ‘n man van vele talente wat ook geniet het om te sing, en kitaar te speel. Sy pa het ook op sosiale media ‘n video gedeel waar JD “Breyen se Brief” van Jan Blohm sing.
Luister hier na een van JD se oorspronklike komposisies:
“Hy wou op ‘n stadium ‘n Country-sanger word en ‘n ander droom was om weermag toe te gaan. Hy het uiteindelik sy passie by Sol-Tech vanaf verlede jaar gevind. Hy het geweet wat hy in die pad vorentoe wil doen,” noem sy pa.
JD was die SR van Sport by Sol-Tech.
Die besturende direkteur van Sol-Tech, Paul van Deventer, het ook sy medelye gedeel.
“Ek het JD (ons het hom geken as “Grens”) persoonlik geken – hy het n diep indruk by ons almal gemaak en was n groot aanwins vir Sol-Tech. Ek het hom geken as gelukkige jong man en gewild onder die studente. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie en hy het altyd gehelp met energie en goeie gesindheid. Ons is hartseer, ons gaan hom mis, dit was vir ons n voorreg om hom te leer ken,” noem Van Deventer in ‘n boodskap aan JD se pa.
JD se roudiens word voorlopig vir 14 Julie by NG Potch-Oos in Bailliepark beplan. ‘n Tyd sal later bevestig word.









