Local newsNewsNews

Hoërskool Die Wilge onderwyseresse op nasionale vlak vereer

Twee onderwyseresse van Hoërskool Die Wilge, Rita Clarke en Eldorette Havenga is vir uitnemendheid by die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) toekennings op nasionale vlak vereer.

Twee onderwyseresse van Hoërskool Die Wilge, Rita Clarke en Eldorette Havenga is vir uitnemendheid by die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) toekennings op nasionale vlak vereer.

Hierdie toekenningsfunksie het op 22 Junie in Pretoria plaasgevind.

Clarke, die senior adjunkhoof van Die Wilge is as wenner in die kategorie “Uitnemendheid in Onderwysleierskap vir skole met spesiale onderwysbehoeftes” vereer.

Havenga is die wenner in die kategorie “Uitnemendheid in Klaskamerpraktyk vir skole met spesiale onderwysbehoeftes.”

SAOU se toekennings kyk na uitnemendheid op administratiewe vlak, klaskamerpraktyk sowel as onderwysleierskap.

Beide Clarke en Havenga noem dat hierdie toekenning geweldig baie vir hulle beteken. Clarke is vanjaar ook deur die NTA (National Teaching Awards) vereer as finalis, terwyl Havenga ook verlede jaar die NTA-toekenning op provinsiale vlak gewen het.

“Mev. Havenga is ‘n besonderse kollega wat hart en siel gee vir elke leerder by die skool en ook ‘n groot inspirasie en motivering vir my is. Sy is ‘n uitnemende onderwyseres en leef haar passie ten volle uit,” noem Clarke.

Mev. Rita Clarke en Mev. Eldorette Havenga is op nasionale vlak deur die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) vereer. Foto: Verskaf.

Havenga, wat alreeds 13 jaar by Die Wilge skoolgee en haar onderwysloopbaan daar begin het, noem dat dit ‘n voorreg is om in ‘n omgewing te werk waar sy aangemoedig word om haar kennis en vaardighede uit te brei.

“Die leerders is verseker my inspirasie, om moedeloos te word in ons sektor is maklik, maar met die kinders waarmee ons elke dag werk kan mens nie anders om jou beste te wil gee nie. Hulle word elke dag met so baie gekonfronteer maar tog bly hulle lief vir skool en hulle onderwysers. Hulle maak planne om by die skool uit te kom en om hulle families te help met dit wat hulle by die skool kry. Jy kan nie anders as om daardeur geïnspireer te word nie,” vertel Havenga.

Sy noem ook dat die toekenning ‘n bewys is dat daar ondersteuning en erkenning vir onderwysers wat ‘n verskil maak in leerders se lewens.

“Die SAOU se toekenning is vir my erkenning aan alle onderwysers wat ten midde van uitdagings ‘n verskil maak in hul klaskamers en skoolomgewings. Jy is totaal ingekoop met dit wat jy doen. Die leerders word deel van wie jy is, en die toekenning gee my die vrymoedigheid om te weet ek is deel van ‘n opvoedkundige gemeenskap wat dit wat ons doen ondersteun,” vertel sy.

Havenga is ook dankbaar vir die gemeenskap se oop harte vir Die Wilge en noem dat onderwysers nie sonder die gemeenskap kan funksioneer nie.

“Ek is dankbaar vir my familie, my man en kinders is my leerders se grootste “fans” en eintlik almal met wie ek in kontak kom, is positief ingestel teenoor die skool en wat ons daar doen. Ek voel dit opsigself is ook ‘n groot prestasie. Ek is uiteraard baie trots op die skool en ek voel dit was die paneel se oortuiging vir die toekenning. Ek wil ons leerders soveel as moontlik blootstelling gee want elkeen verdien ‘n kans om suksesvol te wees.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button