Fotografietentoonstelling wat jou met verwondering laat
Verskeie genres, landskap-/natuurfotografie, straatfotografie, abstrakte foto’s en makrofotografie, word in dié uitstalling ingesluit.
“Beyond the eye” is die titel van ‘n fotografietentoonstelling van Karel Botha wat verlede Woensdag, 28 Junie by die Snowflake-gebou geopen het.
Karel is ‘n professor in sielkunde aan die Noordwes Universiteit (NWU) wat van kindsbeen af fotografie as ‘n stokperdjie beoefen. Hoewel hy nooit formele fotografie-opleiding gehad het nie, spreek sy foto’s van briljante tegniese vaardigheid en ‘n intuïtiewe aanvoeling vir daardie “perfekte” oomblikke wat hy met sy kamera vasvang. Dit is veral in sy portretfotografie waar ‘n mens van sy perfekte tydsbereking bewus word. Hy neem graag foto’s wanneer hy in Suid-Afrika en oorsee reis en gee die aanskouer ‘n blik op estetiese/poëtiese oomblikke regoor die wêreld – van Potchefstroom tot Praag.
Verskeie genres, landskap-/natuurfotografie, straatfotografie, abstrakte foto’s en makrofotografie, word in dié uitstalling ingesluit.
Dr. Louisemarie Combrink, kunsgeskiedenisdosent aan die NWU, wat sy uitstalling geopen het, het Karel se “manier van kyk” as die saambindende faktor van die uitstalling uitgelig.
“Hier sien ons die fotograaf se soeke na ‘seeing beyond seeing’ – wat verwys na die titel van die uitstalling – Beyond the eye.” Karel sê self “Om verby die oog se perke te kyk, anderkant die sigbare, is waaroor my fotografie gaan.”
Combrink verwys na elemente van die “onbevange en verwondering” wat in Karel se foto’s vasgevang word en trek ‘n verband met die Tao van fotografie wat hy onbewustelik toepas. Sy verduidelik dat Tao te doen het met die misterieuse, die wonderskone en die kuns om in die oomblik te leef. Ook dat die mees eenvoudige onderwerp juis vir die mooiste foto’s sorg en so die doodgewone buitengewoon en asemrowend maak.
Fotografieliefhebbers kan nog tot 14 Augustus dié besondere uitstalling by die Snowflake-gebou (Kockstraat 2) besoek. Die foto’s op uitstalling word te koop aangebied en is weeksdae van 7:00 – 20:00 en Saterdae van 9:00-20:00 oop vir besoekers.






