Potchefstroom Sakekamer verskerp veiligheid met kameraprojek
Hierdie inisiatief, wat die Potchefstroom Sakekamer bedryf en bestuur, is in die sentrale sakegebied uitgerol met die doel om Potchefstroom as stad te beveilig en aanhou te verbeter.
Dinsdag, 18 Julie 2023 was ʼn groot hoogtepunt vir die Potchefstroom Sakekamer wat op Nelson Mandela-dag amptelik hulle nuwe #ProPotch Besigheidsverbetering- distrik kamera-en moniteringsprojek bekendgestel en geïmplementeer het.
Hierdie inisiatief, wat die Potchefstroom Sakekamer bedryf en bestuur, is in die sentrale sakegebied uitgerol met die doel om Potchefstroom as stad te beveilig en aanhou te verbeter.
Die area wat die projek dek sluit Retiefstraat, Lukestraat, Du Toitstraat, Boshoffstraat, Fleishackstraat, James Morokastraat en OR Tambostraat in.

Hier is Christiaan Haefele (Bedryfsbestuurder: Mooirivier Beskerming), Roland Bekker (CCTV bestuurder: Mooirivier Beskerming), Juanita Smit (Voorsitter: Potchefstroom Sakekamer ), Jonathan Baron (Potchefstroom Sakekamer lid) en Johan Naude (Cachet Park CID bestuurder).
In samewerking met prominente besigheidslede en Mooirivier Beskerming, het die Sakekamer ‘n toename in misdaad in die Sentrale Besigheidsdistrik (SBD) geïdentifiseer, wat die welstand van besighede in Potchefstroom negatief beïnvloed. Die sade vir die Besigheidsverbetering- distriksprojek (BID) is in 2022 geplant toe vergaderings met belanghebbendes gehou om insette rakende die verbetering en beveiliging van die gebied te kry.

Om die implementering van die kamera- en moniteringsprojek te ondersteun, is fondse ingesamel met gemeenskapsgeleenthede wat deur die Sakekamer gereël is, wat die belangrikheid van die handhawing van veiligheids- en veiligheidsmaatreëls binne die besigheidskern beklemtoon het.
Juanita Smit, voorsitter van die Potchefstroom Sakekamer, het haar persoonlike verbintenis met hierdie projek bevestig, nadat sy as ‘n besigheidseienaar in die SBD die verhoogde vlakke van misdaad ervaar het wat uiteindelik gelei daartoe het, dat sy vir veiligheidsredes haar besigheid moes skuif.

“As ‘n onafhanklike, nie-winsgewende, nie-politieke instansie, fokus ons daarop om ekonomiese welvaart van ons sakegemeenskap te bevorder en saam te staan om ‘n beter toekoms vir alle Potchefstromers te verseker,” het Smit gesê.
“Ons primêre doelwit met die BID-projek is om die misdaadsyfer te verlaag deur toegewyde monitering te implementeer wat gehandhaaf word deur ‘n span bestaande uit Mooirivier Beskerming, ‘n operasionele bestuurder en die bestuurslede van die Potchefstroomse Sakekamer. Die projek sluit 24/7 CCTV monitering en reaksie, sowel as die Buzzer en Verslagdoening toep in.
Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder by Mooirivier Beskerming, noem ook dat die 14 kameras wat deel van die projek vorm, ʼn groot rol sal speel om misdaad in die sentrale sakekern te bekamp.
“Dit is belangrik om misdaad in die sentrale sakekern te bekamp. Deur hande met die sakekamer en besighede te vat kan ons daar ʼn groot verskil gemaak word. Die terugvoer van besighede oor hierdie projek is baie positief,” noem Haefele.
Die Sakekamer het ankerbesighede van die projek, Engel & Völkers, Meyer van der Walt Prokureurs, Vericred Collections, De Villiers Prokureurs, Jankra Gebou, Habitat en die Windpompkompleks bedank vir hulle bydraes en ondersteuning wat die implementering van fase A moontlik maak.
“Ons glo dat ander ondernemings in die omgewing by ons sal aansluit om hul operasionele sones te beskerm, wat ons sal bemagtig om verdere fases in die SBD te implementeer,” het Jonathan Baron, lid van die Sakekamer, genoem
Vir enige navrae of om ‘n vergadering met ‘n lid van die BID-projek te reël, kontak die Sakekamer by 0716088775. Alternatiewelik kan ‘n e-pos na info@potchsakekamer.co.za vir meer inligting gestuur word.



