SportSport

Volkies se vuurwarm hotklou slaan drie agtereenvolgende honderdtalle

Hy het 421 lopies gemoker teen ‘n indrukwekkende kolfgemiddeld van 105 wat ‘n besonderse prestasie is.

Tydens die onlangse Mozzie Krieketweek in Nelspruit was Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste span aanvangskolwer en kaptein, Ludwich Schuld in fenomenale vorm.

Hy het kop en skouers bo die ander kolwers gestaan en drie agtereenvolgende honderdtalle aangeteken vir sy skool.

Ludwich Schuld het drie agtereenvolgende hondersdtalle vir Volkies tydens die Mozzieweek Kriekettoer in Nelspruit aangeteken.

Hy het 421 lopies gemoker teen ‘n indrukwekkende kolfgemiddeld van 105 wat ‘n besonderse prestasie is. Schuld begin met 118 (112 balle) teen Midstream College, volg dit op met 100 (86 balle) teen Hoërskool Transvalia en toe ‘n uitstekende 125 (111 balle) teen Oman Krieketakademie. In die laaste T-20 wedstryd teen Hoërskool Eldoraigne maak hy ‘n blitsige 78 (46 balle) om sy toernooi af te rond.

Schuld was verlede jaar in die SA Skolespan na afloop van die nasionale KSA Khaya Majola krieketweek ingesluit en met hierdie vorm lyk dit of hy weer ‘n sterk aanspraakmaker in sy matriekjaar is.

Andries Huisamen rig al vir Ludwich af vandat hy in graad 6 is en noem dat hy van jongs af al baie talent gewys het.

“Die afgelope twee jaar het hy die vermoë gekry om beter besluite met sy kolfwerk te neem en langer te kolf. Hy kan meer lae-risiko krieket speel vir langer tye. Hy speel nie net meer ‘n paar mooi houe en dan is hy uit vir 30 nie,” noem Huisamen.

Volgens Huisamen was Schuld ook nog altyd baie perfeksionisties en hard op homself, maar dat hy nou sy emosies beter in beheer is dat hy meer konstant is.

“Dit was belangrik om sy besluitneming beter te maak en ‘n wedstrydplan te gee sodat hy konstant lopies maak. Die week wat verby is, waar hy drie honderdtalle gemaak het, bewys dit. Ludwich is ‘n great kind om af te rig en wil graag leer. Hy werk ook hard op sy eie. Ek is opgewonde oor hom en dink hy het ‘n baie blink toekoms.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button