Local newsNewsNews

Grootskaalse behuisingsontwikkeling vir Vyfhoek beplan

Die J.B. Marks Munisipaliteit het begin met die proses om ‘n geïntegreerde behuisingsontwikkeling genaamd “Ferdinand Postma Park Proper” in die Vyfhoek Area langs die N12 te vestig.

Die J.B. Marks Munisipaliteit het begin met die proses om ‘n geïntegreerde behuisingsontwikkeling genaamd “Ferdinand Postma Park Proper” in die Vyfhoek Area langs die N12 te vestig.

Hierdie grootskaalse projek wat vir die oostekant van Potchefstroom beplan is, is tans in die omgewingsimpakstudie-fase waar lede van die publiek insette kan lewer. Daar was in die 29 Junie 2023 uitgawe van die Herald ‘n kennisgewing rondom die omgewingsimpakstudie wat Moanowashu SHEQ Trading uitgevoer het.

Die kennisgewing wat in die Herald op 29 Junie 2023 verskyn het.

Lede van die publiek kan hierdie studie by die munisipaliteit se ontvangs of die biblioteek in Sol Plaatjiestraat kry.

Hierdie projek is vir die grond van die plaas Vyfhoek 428-IQ beoog en sal sowat 200 hektaar beslaan.

Daar word beplan dat die projek in verskillende fases opgedeel sal word en dat die grond nie eenmalig op een slag ontwikkel sal word nie. Volgens munispale woordvoerder, Jeanette Tshite, is die doel van die ontwikkeling om die wanbalanse van die verlede wat deur gesegregeerde ruimtelike beplanning gekenmerk is, reg te stel.

“Die voorgestelde geïntegreerde dorp sal bestaan uit residensiële, ekonomiese en maatskaplike fasiliteite met sowat 2 171 erwe en 2 582 behuisingsgeleenthede,” voer Tshite verder aan.

Die voorgestelde dorp word oorweeg in ooreenstemming met die Tlokwe Ruimtelike Ontwikkelingsraamwerk, 2014 wat die Vyfhoek Raad Eiendomme vir residensiële ontwikkeling geoormerk het.

Volgens Tshite is die ligging van die ontwikkeling ook van so aard dat daar nie enige dolomiet is wat die ‘n negatiewe impak op die volhoubaarheid van die ontwikkeling sal hê nie.

“Om sodoende beide die dolomietiese risiko in die westelike gedeelte van Tlokwe te vermy sowel as om gehoor te gee aan die ontwikkelingsriglyne in die Ruimtelike Ontwikkelings Raamwerk, is dit aangewese om nuwe ontwikkeling te beplan as deel van die N12 Aktiwiteitskorridor,” noem sy.

“Hierdie voorgestelde ontwikkeling sal nie volgens klas of ras ingerig word nie. Die oorhoofse doel is om volhoubare en waardige menslike nedersettings, gemengde inkomstegroepe, gemengde behuisingstipologieë en verblyfopsies te bevorder,” verduidelik Tshite.

DA wyksraadslid in wyk 3, Anné van Onselen, noem dat die eerste vergadering rondom hierdie projek reeds in 2017 gehou is.

“Die projek het destyds op 27 Februarie 2018 voor die raad gedien wat hewige reaksie ontlok het. Sedertdien het besperkings rondom hierdie ontwikkeling by vergaderings deurgaans sterk emosies laat opvlam,” noem sy. Sedertdien is daar al ook ‘n hele paar aspekte wat vraagtekens rondom hierdie ontwikkeling bring. Buiten die feit dat daar reeds 152 besware rondom die beoogde ontwikkeling vanuit die publiek aangeteken is, is daar ook die kwessie of daar genoeg finansiering vir so grootskaalse projek is.

Veral in ag genome dat huidige infrastruktuur eers dringend aandag in Potchefstroom benodig. Basiese infrastruktuur sal eers in plek gestel moet word wat water, elektrisiteit, riool, paaie ens. insluit.

Een van die kommerpunte tans is dat daar nie munisipale dienste is om enige behuising te regverdig nie. Daaruit kan ook ‘n menseregte kwessie spruit, veral as mense sonder dienste op die stuk grond geplaas word.

“Die DA het onlangs ‘n klag by die menseregtekommissie ingedien teen die munisipaliteit as gevolg van die vestiging van mense op grond sonder dienste (by Mooibank).” Dit sal ook druk plaas op die munisipaliteit dat hulle eers goedkeuring kry voordat daar enige soortgelyke behuising gevestig word. “As prosesse nie gevolg word nie, sal daar net weer hofbevele verkry word en dan sit die munisipaliteit weer met eier op hul gesig,” noem DA raadslid, Hans-Jurie Moolman.

*Om as ‘n belanghebbende of geaffekteerde party te registreer kan Tambudzani Mulaudzi by 065 826 0797 of per-epos by mwsheq@gmail.com gekontak word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button