Local newsNewsNews

Opheffingsprojek wil jeug se drome vlerke gee

Jacky van der Merwe, ‘n organiseerder by Lifting Dreams, het Dinsdag 25 Julie 54 geword, en gekies om haar verjaarsdag saam die kinders by Laerskool Ourief te vier

Lifting Dreams is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat spesialiseer in gemeenskapsopheffing deur onderwys.

Lifting Dreams (LD) het elke Dinsdag en Saterdag uitreike. Op Dinsdae gaan Lifting Dreams Laerskool Ourief toe, en Saterdae gaan hulle Ebenezer Creche toe. Die kern van die Lifting Dreams-program is tutorsessies waar die vrywilligers na vennootskole reis om kinders prettige leergeleenthede te bied.

Die LD-span skep geleenthede vir tutors, student, nie-werkendes en werkendes om deel te wees van die projek. Vrywilligers het die geleentheid om by skole met gebrekkige hulpbronne, kinders se akademiese sukses deur Engels en Wiskunde te versterk. Die LD span gee meedoënloos om te belê in die ontwikkeling van geskikte akademiese inhoud deur n vennootskap met die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Opvoedkunde. Dis dan ook NWU-studente wat die uitreike moontlik maak.

Gehalte-onderwys is ‘n voorreg wat vir baie ontsê word en dit is LD se begeerte om dit aan kinders in minderbevoorregte gemeenskappe in Suid-Afrika te bring. LD bereik die begeerte deur ‘n aanvullende verrykingsprogram by skole met gebrekkige hulpbronne aan te bied.

“Verder is dit belangrik om te besef dat 27% van kinders in Suid-Afrika belemmerde groei ervaar as gevolg van wanvoeding,” sê Rina Vogler, organiseerder by LD. “Om ons kinders te help om fisies sowel as kognitief te ontwikkel, voeg ons verdere waarde toe deur voedingsbehoeftes aan te spreek.”

LD spreek die wanvoedingprobleem aan deur te verseker dat elke leerder ‘n Nkosi Bar kry na klas. Die Nkosi Bar is ‘n produk van Wellspring NPC wat voedselstafies verskaf om as ‘n ‘voedingsveiligheidsnet’ op te tree. Hierdie stawe is propvol die nodige vitamiene, minerale en makrovoedingstowwe om voedingstekorte te voorkom. Drie van hierdie stawe per week is effektief om die nodige voedingstowwe te verskaf om wanvoeding te voorkom.

“Meeste van die vrywilligers wat op uitreike gaan is studente,” sê Vogler, “maar ons wil graag die projek meer volhoubaar maak. Ons kort ouer mense om die projek aan oor te gee. Ek is al 80, my man het sopas 86 geword, ons gaan nie meer vir lank uitreike kan doen nie, ons word oud.”

Vogler se man Uli Vogler, het Saterdag 22 Julie 86 geword. Hy het sy verjaarsdag by die Ebenezer Creche saam met die kinders gevier. “Daar was 75 kinders van Ikageng en 10 studente van NWU,” sê Vogler. “Uli het gesê dit was ‘n voorreg om saam met die kindertjies verjaarsdag te vier. Hy wil nie meer geskenke hê nie, dis lekkerder om die vreugde op die gesiggies te sien, dis die grootste geskenk wat hy kon kry,” sê Vogler verder.

Uli Vogler, wat Saterdag 22 Julie 86 geword het, by Ebenezer Creche waar hy sy verjaarsdag gevier het. Foto: Verskaf.

 

Jacky van der Merwe, ‘n organiseerder by LD, het Dinsdag 25 Julie, 54 geword, en gekies om haar verjaarsdag saam die kinders by Laerskool Ourief te vier. “Dit was ‘n ongelooflike voorreg om al die glimlagte te sien,” sê Van der Merwe. “Dit was heeltemal die moeite werd om laataand te bak en werkkaarte te maak. My gunsteling oomblik was om by die GrR&1 klas in te stap en die stilte en konsentrasie te sien terwyl die leerders werkkaarte voltooi.”

Jacky van der Merwe, wat Dinsdag 25 Julie 54 geword het, by Laerskool Ourief. Foto: Verskaf.

“LD Potchefstroom wil Potchefstromers vra om deel te word van die projek,” sê Vogler. “Hierdie projek is vir oud en jonk.”

Wat het Lifting Dreams Potchefstroom nodig? Hoe kan jy help?

  • Borgskap van/of fondse vir leermateriaal:
  • * Drukwerk, laminering, skryfbehoeftes (bv. penne, potlode en papier)
  • Borgskap van/of fondse vir voedingsprogramme:
  • * Nkosi-stafies, sap, vrugte
  • Vervoer:
  • * Ons vrywilligers ry saam om hul vervoerkoste te verminder, maar met stygende brandstofpryse vreet bykomende reise in hul beperkte begrotings. Groepvervoer mag nodig wees.
  • * Meer vrywilligers wat ‘n maksimum van twee uur per week of minder kan spandeer om op verskeie maniere te help.

Vir meer inligting, besoek www.liftingdreams.co.za

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button