‘n Student is verlede Donderdag, 3 Augustus, herhaaldelik met ‘n mes gesteek en van sy skootrekenaar en selfoon beroof reg by die ingangshek van sy woonstelkompleks naby die Lavaria Dameskoshuis op die bult in Potchefstroom.
Enrico de Swardt, wat ‘n tweedejaar student in aptekerswese aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus is, vertel dat hy vroeër die aand by ‘n vriendin gekuier het. Kort voor middernag het hy die 200 meter huis toe gestap na sy eie woonstelkompleks.
Hy was op sy selfoon besig met ‘n oproep, toe hy twee mans na hom sien stap het. Hulle het aan sy rugsak begin ruk en hom toe herhaaldelik met ‘n mes gesteek. Enrico het geval maar kon weer regop kom.
Dit was net die Here se genade dat sy sleutels nie in sy rugsak was nie, vertel sy ma, Ronel, wie in Parys woon. Enrico kon die kompleks se hek oopmaak en dit weer vinnig toekry om weg te kom van sy aanvallers.

Sy broer met wie hy ‘n woonstel in die kompleks deel, het hul ouers gebel, en Enrico hospitaal toe geneem waar hy behandel is vir messteekwonde aan sy been, tussen sy ribbes en onder sy arm.
“My kind kon dood gewees het,” sê Ronel. Die messteekwond by sy ribbes het sy long rakelings gemis, terwyl die wond onder sy arm baie naby aan ‘n hoofslagaar was.
Sy aanvallers is steeds nie gekry nie, maar sekuriteitskameras van Mooirivier Beskerming het gewys dat die mans vroeër in Steve Biko rylaan waar die voorval gebeur het, afgelaai is.
Die kompleks se eie sekuriteitskameras wat na die palisadeheining gedraai is, het nie die aand van die voorval gewerk nie.
“Jy weet as iemand jou daardie tyd van die nag bel, is daar fout,” sê Ronel, “Jy dink Potchefstroom is veilig. Dat dit nie met jou kinders sal gebeur nie. As ek net ander studente kon waarsku om eerder in groepe te loop en bedag te wees op hul omgewing,” waarsku Ronel. “Dat Enrico leef is net ‘n baie groot genade.”
Mooirivier Beskerming het vroeër op hul digitale platforms gesê dat ‘n toename in rowe en misdaad waar studente geteiken word, gesien is.
- Hulle het studente aangemoedig om die selfoontoepassing, Buzzer, te gebruik in geval van nood en om verdagte optrede of noodgevalle te rapporteer.
- Hulle raai ook studente aan om eerder in groepe te beweeg, en waaksaam te wees te alle tye.
- Moenie dat musiek of jou selfoon jou aandag aftrek van jou omgewing nie. Skakel ‘n vriend of vriendin om jou te kom oplaai by ‘n kuierplek omdat studente dikwels geteiken word juis wanneer hulle ‘n kuierplek verlaat.
- Vermy swak beligte en verlate plekke asook verdagte voertuie.





