SportSport

Gimmie is doelgerig vir hokkiesukses

Jan-Adriaan van Wyk, ‘n matrikulant van Potchefstroom Gimnasium, is een van die groot redes agter die skool se deurlopende hokkiesukses die afgelope vyf jaar, wat met honderde doele agter sy naam as ‘n Gimmie sit.

‘n Bekende spreekwoord lui dat niks in hierdie wêreld seker is behalwe dood en belasting nie.

Potchefstroom Gimnasium se eerste seunshokkiespan kan nog ‘n sekerheid by hierdie spreekwoord voeg – ‘n doel vanaf hul ster middel voorspeler, Jan-Adriaan van Wyk.

Jan-Adriaan, ‘n matrikulant van Potchefstroom Gimnasium, is een van die groot redes agter die skool se deurlopende hokkiesukses die afgelope vyf jaar, wat met honderde doele agter sy naam as ‘n Gimmie sit.

Jan-Adriaan van Wyk speel in die middel voorspeler posisie en is altyd ‘n bron van doele vir Gimmies. Foto: Wouter Pienaar.

In graad 8 het hierdie middel voorspeler ‘n ongelooflike 116 doele in die seisoen aangeteken en sedertdien is doele ‘n spreekwoordelike sekerheid.

Verlede naweek het hy 14 doele in die Noordvaal finale aangeteken en is as Speler van die Toernooi benoem. Gimmies eindig as die beste seunshokkieskool en hy as die beste speler Noord van die Vaalrivier.

“Ek voel baie geëerd daaroor, want dit gaan my verstand te bowe dat ek dié prys ontvang het. Ek sal elke dag dankbaar en nederig bly daaroor, want ek weet hoe hard ek gewerk het om dit te ontvang,” vertel Jan-Adriaan.

Sukses gebeur nie net oornag nie en hy is vinnig om uit te wys dat hy niks sonder sy hegte span kan bereik nie. Hierdie span het al sedert sy o.14-jaar die trofeë en doele ingepalm.

Jan-Adriaan van Wyk in aksie vir Gimmies tydens vanjaar se Classic Clash wedstryd teen Volkies op die NWU Astrobaan. Foto: Tian du Preez.

“Die span waarin ek nou al vir amper vyf jaar is, het nog minimaal verander. Dis ontmoontlik om nie goeie bande met die mense te vorm nie. Hierdie mense het nog elke dag my net opgebou en my deur elke moeilike tyd van my lewe gehelp. Die span is soos my tweede familie,” sê Jan-Adriaan.

Soos meeste hokkiespelers het sy passie vir hokkie ontwikkel toe hy nog baie jonk was.

“Dit het sterker geword elke keer as ek vir my broer, Ian, moes gaan kyk het toe hy hokkie gespeel het. Ek was toe in Graad 1 of 2 in Laerskool Wildehondepan (Schweizer-Reneke),” vertel hy.

Hy beaam dat sy sukses vanuit ‘n eenvoudige fondasie gelê is. As die basiese vaardighede op ‘n hoë vlak is, dan volg die res.

“Ek oefen op ‘n mate hard, maar nooit spesifiek op doelskiet nie. Jy gaan nooit op ‘n spesifieke plek of tyd dieselfde bal kry nie so jy moet so oefen dat jy altyd gereed is om jou werk op die veld teen jou beste vermoë kan voltooi,” verduidelik hy.

Om doele aan te teken is vir hierdie kranige doelvraat ‘n wonderlike gevoel veral wanneer hy met ‘n Backstick die doel aanteken.

Jan-Adriaan van Wyk is as die speler van die Noordvaal-toernooi aangewys.

“Al my vriende weet ook dit is my gunsteling manier om ‘n doel aan te teken. Daar is ‘n gemeenskap van hokkiespelers wat my gemotiveerd hou. Vir ‘n feit het ek my beste vriende vanuit hokkie ontmoet. My grootste hoogtepunt van my hokkie loopbaan is om elke wedstryd saam van my beste vriende op die veld te spandeer en meeste van ons opposisie te wen.”

Al het Jan-Adriaan al baie toekennings die afgelope vyf jaar ontvang, bly sy toekenning in graad 8 as die top doelskieter die naaste aan sy hart.

“Die passie wat ek het vir hokkie hou my elke dag gemotiveerd om te oefen en aan te hou hard werk. Ek sal graag volgende jaar vir die NWU hokkie wil speel waar ek nog harder kan werk om in Suid-Afrika se mans hokkiespan in te kom,” vertel hy oor sy toekomsplanne.

Jan-Adriaan is ook geëerd dat hy saam ‘n wye reeks afrigters kon werk wat sy passie vir hokkie aangevuur het en elkeen hom gevorm het in die speler wie hy vandag is. Dit sluit in Erna Meyer (laerskool afrigter van Gr1 tot en met gr7, Piet van Wyk (Graad 8), Lilitha Bodlani (Graad 9), Tjoff van Staden (Graad 10 en eerste jaar in die eerste span) en Mthokozo Mbotho (Graad 11 tot 12).

Wanneer hierdie Gimmie van die hokkieastro afstap en vir eers sy hokkiestok neersit, vind hy sy rustigheid in die buitelug met ‘n goeie stapsessie, wat hy bestempel as sy gunsteling aktiwiteit.

“Ek eet ook onmenslik baie, veral hamburgers en pasta – dis nie altyd so gesond nie,” glimlag hy.

“Ek luister amper elke dag so paar ure musiek, want dit maak my gelukkig terwyl ek stap . Om te gaan stap maak my brein rustig van alles wat pla en gee vir my tyd om te dink hoe om seker moeilike lewensomstandighede wat ek die jaar ondervind het, te prosesseer.”

Dit is juis hierdie rustigheid wat Jan-Adriaan balans gee om net weer mens te wees en op die positiewe te fokus en nie in die negatief vasgevang te word nie.

“Lewe is moeilik vir almal, maar moet nooit net vas kyk in die negatiewe goed nie want dit sal jou siel verrot, so as dit voel asof lewe jou verdrink , gryp ‘n paar swembrille en gaan kyk vir die mooi visse  tot dit jou tyd is om op te kom,” blaas hierdie 18-jarige die spreekwoordelike eindfluitjie in hierdie gesprek met ‘n stukkie lewenswysheid.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button