Local newsNewsNews

Pitbull-saak: Verhoor sal in November plaasvind

Chandré van der Linde en haar lewensmaat, Marno Mostert, wat beide aangekla word ingevolge die Wet op Diereaangeleenthede, het vanoggend (Maandag, 11 September) vlugtig in die hof verskyn.

Die verhoordatum van die Pitbull-saak waar ‘n huishulp, Dipuo Kokolosi (48), deur pitbull-honde van ‘n Potchefstroomse paartjie op 25 Januarie 2022 verskeur is, is nou vasgestel.

Die verhoor sal vanaf 6-7 November 2023 in die Potchefstroom Stadsaal plaasvind.

Chandré van der Linde en haar lewensmaat, Marno Mostert, wat beide aangekla word ingevolge die Wet op Diereaangeleenthede, het vanoggend (Maandag, 11 September) vlugtig in die hof verskyn. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle nalatig was.

Chandré van der Linde en Marno Mostert word beide aangekla ingevolge die Wet op Diereaangeleenthede. Foto: Wouter Pienaar.

Van der Linde en Mostert se regsverteenwoordiger, Malan Schutte, het in die hof aan die landdros gevra dat die verhoor tot November uitgestel word aangesien sy kliente in Oktober trou en dan op hul wittebrood sal wees. Daar is toe ooreengekom dat die verhoor in die eerste week van November sal plaasvind.

Die staat het vanoggend genoem dat hulle ‘n klomp staatsgetuies het rakende die saak en die verhoor oor twee datums sal wil laat strek.

Dipuo Kokolosi (48), wie se gesig deur Pitbull-honde op 25 Januarie 2022, verskeur is, het vanoggend die voorverhoor by die Potchefstroom Stadsaal bygewoon. Foto: Wouter Pienaar.

Kokolosi, haar broer, Joseph Modise, en ander familielede was ook vanoggend by die hof. Hulle het al die pad van Bloemhof gery.

Modise het genoem dat Kokolosi nog fisiese en emosionele pyn ervaar. Hy het ook vertel dat die ongeskiktheidstoelae net die nodige dek.

Kokolisi wat ten tye van die aanval, Van der Linde se huishulp was, se lewe is onherroeplik verander nadat sy ernstige beserings in die voorval opgedoen het.

Die honde het haar neus, lip, en oorskulpe afgeruk en ook ander dele van haar liggaam gebyt. Ziggy Abdullah, ‘n buurman van Van der Linde, het op daardie dag tot Kokolosi se redding gekom en uit selfverdediging die honde doodgeskiet nadat hy ‘n waarskuwingskoot afgevuur het.

Kokolosi moes na ‘n lang tyd in die hospitaal deurbring en het ook talle rekonstruktiewe operasies ondergaan.

Schutte, het in Mei vanjaar aan die Herald bevestig dat sy klient se pitbull-honde op die dag van die voorval agter ‘n sekuriteitshek toegemaak was.

Related Articles

Back to top button