Duisende liters water daagliks vir afgelope drie jaar vermors
Volgens een van die inwoners word daar ongeveer 40 000 liter water elke 12 uur as gevolg van hierdie waterlek vermors.
Vir die afgelope drie jaar dra ‘n waterlek in Michael Heynsstraat in Dassierand by dat daar daagliks duisende liters water vermors word.
Een van die inwoners in hierdie straat, Jannie van Graaff, wat ook ‘n loodgieter is, noem dat die munisipaliteit kontrakteurs stuur om na die lek te kyk, maar dat daar nie vordering is om dit behoorlik te herstel nie.

“Ek voel dit is die munisipaliteit te werk. Ek het self al aangebied om die sementblok waar die oorsprong van die waterlek is, oop te kap, maar dan moet die munisipaliteit hier wees om die lek dan behoorlik te herstel. Andersins sal die water weens die druk so hoog in die lug skiet,” wys Van Graaff met sy hande.

Volgens hom word daar ongeveer 40 000 liter water elke 12 uur as gevolg van hierdie waterlek vermors.
Die munisipaliteit het by navraag genoem dat hulle planne beraam om die waterlek in hierdie straat teen Vrydag, 22 September te herstel.
“Die munisipaliteit is tans besig om materiaal in grootmaat te koop om die waterlek by die ondergrondse brandkraan te herstel,” het munisipale woordvoerder, Jeanette Tshite genoem.





