Local newsNewsNews

DA braak gal oor rommelstrooiing na ANC-byeenkoms

Volgens raadslid Chris Hattingh, DA Kiesafdelingshoof: JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, was hierdie geleentheid 'n misbruik van staatshulpbronne en weer ‘n voorbeeld van algemene wetteloosheid.

Dit was nie ‘n mooi prentjie wat Potchefstromers na moes kyk die afgelope Sondag, 17 September, toe hulle in Piet Bosmanstraat verby Olënpark ry nie.

Aan beide kante van Piet Bosmanstraat teen Potchefstroom Boys High, langs die Wasgoedspruit, voor Olënpark en by die treinstasie was die area met rommel en vullis besaai.

Dit na die ANC se manifesgeleentheid wat by Olënpark op Saterdag, 16 September plaasgevind het.

Volgens raadslid Chris Hattingh, DA Kiesafdelingshoof: JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, was hierdie geleentheid ‘n misbruik van staatshulpbronne en weer ‘n voorbeeld van algemene wetteloosheid.

“ANC-grootkoppe het in hul blouligbrigades in Potchefstroom toegesak, terwyl hulle soos besetenes gery het en alle verkeersreëls geïgnoreer het,” noem Hattingh verder.

Marlene Steyn du Toit, VF+ raadslid in die J.B. Marks munisipaliteit noem dat die wyse waarop ANC-ondersteuners die Olënpark omgewing in ‘n rommelhoop omskep het,‘n absolute skande is.
“Die VF Plus sal aandring op ‘n behoorlike ondersoek oor hierdie gebrek aan optrede en beheer deur wetstoepassers. Daar sal rekenskap gegee moet word en ook watter stappe geneem sal word om soortgelyke wangedrag deur ongedissiplineerde politieke partye en hul ondersteuners in die toekoms te voorkom,” stel Steyn du Toit.

Volgens Hattingh het die ANC in hul desperaatheid om te regeer, Kersvader gespeel in ‘n poging om stemme vir volgende jaar se verkiesing te koop.

“ANC-kaders is Saterdag na Olënpark gelok deur plakkate met ‘n glimlaggende Ramaphosa-foto, vasgespyker in historiese eikebome, ‘n nasionale erfenis, en die belofte van eet- en drinkgoed.”

“ANC-kaders is in ‘n dronk toestand in die strate gesien. Dronkbestuurders het die veiligheidsrisiko wat deur die blouligbrigades geskep is, vererger, maar polisie en verkeersbeamptes was nêrens te sien nie, alhoewel hulle in getalle teenwoordig was om die ANC se BBP’s te beskerm,” noem Hattingh verder.

Die Herald het die omgewing op Maandag, 18 September besoek en teen ongeveer 10:30 was daar steeds hope vullis by die treinstasie en buite Olënpark se hekke.

Munisipale werkers het toe al begin om die gemors vanaf die hoek van Piet Bosmanstraat en Retiefstraat op te ruim.

*Sodra die Herald kommentaar van die ANC se provinsiale woordvoerder en JB Marks munisipaliteit ontvang sal dit by die artikel gevoeg word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button